Agri/BusinessCommunityLatest

Plaaslik: By Die Danssaal paar Nel passie met produkreeks

Die Danssaal op Malmesbury is nie net ‘n kombinasie van passie, ruimte en ‘n nuwe begin van self hand aan die ploeg slaan nie.
Dit is hart en siel en ‘n werkruimte waar Ohna Nel ‘n unieke produk skep – eg en so natuurlik moontlik.

Van die foto wat sy met natuurlike lig belig om die karakter – vorm, kleur en tekstuur – van haar onderwerp getrou vas te vang en dan die proses om dit uiteindelik op materiaal weer te gee in ‘n verskeidenheid praktiese produkte vir jou huis.
Ohna vertel sy is regdeur haar loopbaan hoofsaaklik betrokke om nuwe besighede in verskeie sektore te help opstaan. Dit is juis hierdie jare se ondervinding en gedwonge leer en planne beraam oor die spektrum van klein besigheid staan maak, glo sy, wat sy vandag met vrug kan toepas in haar eie besigheid.
“Ek is drie jaar gelede afgelê en het besluit ek bou van hier af aan my eie besigheid – waar energie en tyd wat ek insit, vir my eie besigheid is.”

Sy is passievol oor die waardering van die alledaagse en om dit op só ‘n wyse vas te vang en te herskep dat sy en ander dit opnuut kan waardeer.

Natuurlik daarby kom die werk met verskillende ontwerpe, materiale en om ‘n produk te lewer wat professioneel afgerond is.
Ohna sê dit is alles goed en wel om jou passie te leef, maar dit moet kos op die tafel help sit. “En sal ek ander graag wil help inspireer om te besef hulle kan met hulle keuses en daaglikse aksies wel kop op die tafel sit. Dit is dan net belangrik om goed te beplan en nie net blindelings in te storm omdat jy dink dis ‘n goeie konsep of idee nie.

“Om drome te bewaarheid, is inderdaad moontlik, maar slegs as jy bereid is om deurlopend die harde feite op te weeg in die bepaling van jou volgende tree op pad daarheen,” voeg sy by.
Ohna het in Durbanville grootgeword, aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en woon die afgelope klompie jare op Malmesbury.

“Ek wou my besigheid bou rondom my fotografie en het spesifiek gekyk na dit wat ek daarmee kan kombineer om ‘n inkomste te genereer – doing what I love.”
Sy sê sy was “ te lank vas in ‘n 8 tot 5-roetine en het baie dae gedink daar moet meer wees as net ‘rinse and repeat’ dag in en dag uit.”
Nou leef sy haar passie en sal soms vyfuur in die oggend reeds aan die werk wees in die werkswinkel “en as ek vanmiddag die mooi lig buite sien, myself die kans gun om in die son te gaan sit met ‘n beker koffie of om my kamera te vat en die lig te probeer vasvang.”

In Die Danssaal is daar voordurend innovasie -nuwe produkte wat prakties in jou huis en leefstyl inpas – van skouersakke tot teedoeke & vatlappies (wat ook ideaal is vir geskenke), strooikussings en nutsitems soos “tablet covers”. En natuurlik, met die luukse van persoonlike diens en vakmanskap op jou voorstoep, kan produkte ook pasgemaak word vir jou spesifieke behoefte.

Oor die lesse wat sy geleer het, sê Ohna, is sy van mening dat daar ‘n paar maande of jare in elke besigheid is waaroor mense te min praat – die deel waar jy een proeflopie op die volgende doen – “óf dis ‘n kolossale mislukking óf jy maak wel vordering net om om die volgende draai weer ‘n paar tree terug te skuif.

“Deur elkeen van daardie maande of jare leer jy vaardighede en tegnieke wat jy op geen YouTube-video kan leer nie. Jy kan dalk ‘n visuele voorstelling sien van hoe ‘n ander kundige dit doen, maar jou eie hande en vingers moet dit eers bemeester.
“Dit is onrealisties om jouself en jou produkte te evalueer teen die vakman wat sopas ‘n boek uitgegee het met die mooiste voorbeelde uitgebeeld op daardie bladsye. Wat jy daar sien, kom met jare se ondervinding en self sukkel en self probeer. So moenie moed verloor nie. Druk deur, hou aan en hou aan – al is dit ‘n millimeter vorentoe op ‘n slag.”
Sy verwys dan na die Engelse uitdrukking: “How badly do you want this.”

“Jy sal oor en oor getoets word oor hoe

1. graag jy vir jouself wil werk

2. ernstig en passievol jy werklik is oor jou besigheid se kernkonsep

3. aanpasbaar jy is en hoe goed jou vermoë is om probleemoplossings te doen.”

Ohna glo ‘n entrepreneur sal wel die vrugte pluk en met elke deurbraak en elke mylpaal weer en weer besef dat dit alles die moeite werd was en “dat jy die reis vir niks sal verruil nie!”
Sy sê: “Daar is onmeetlike genade in my reis tot hier, vandag. Ek sal nie hierdie reis aangepak het sonder Vader se leiding nie. Male sonder tal het Hy voorsien en wat ek in daardie stadium as ‘n ramp ervaar het, omgedraai in ‘n geleentheid vir ‘n beter roete of manier van doen. Alle eer aan Hom!”
En die toekomsplanne vir Die Danssaal?
“Ek sal graag wil byvoeg tot die huidige produkreeks (en dienste) met werkswinkels waar ek my kennis kan oordra, maar ook waar ek ander kan motiveer deur met hul my eie reis tot dusver te deel.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!