Mahieu se ‘Rooted’ open op Riebeek
‘n Solokunsuitstalling deur die plaaslike kunstenaar Sander Mahieu open op 18 April by Gallery 7 on Plein op Riebeek-Kasteel.
Mahieu se eerste solo-uitstalling heet Rooted en kombineer ‘n reeks nuwe skilderye met kunswerke van 2020. Dit gee aan die besoeker ‘n intieme blik op Sander se verkenning van die innerlike en buitenste landskap en ‘n gevoel van plek.
Nadat hy sewe jaar gelede na Suid-Afrika verhuis het, is Sander se skilderye tekenend van sy wortels in Nederland en sy soeke om te behoort en weer wortel te skiet in sy nuwe aanneemland.
Sy landskappe trek half onbewustelik na die Nederlandse landskap – die bekende omgewing in die psige – terwyl hy voortdurend ‘n gesprek voer tussen die vorige en die huidige standplaas.
Mahieu se kreatiewe proses is “om vrede te maak met die ontkoppeling tussen die gevoel van die innerlike landskap en die gewaarwording van die huidige, buitenste landskap”.
In hierdie transformerende ruimte skiet hy as’t ware dan wortel deur die kreatiewe daad en skep vir homself weer die verhouding tussen die innerlike en die buitenste landskap.
Sy werk toon ‘n vordering om in die huidige plek gewortel te raak, terwyl die verlede steeds daarin weerklink.
Mahieu se uitstalling duur tot 10 Mei.
Die opening vind op 18 April om 11:30 plaas.