Kerk wil nuwe sentrum op perseel bou
As alles volgens plan verloop, sal die NG Gemeente Swartland (Moedergemeente) eersdaags ‘n nuwe jeugsentrum op die kerkterrein laat bou.
Die aansoek is nou by Erfenis Wes-Kaap ingedien omdat die huidige gebou ouer as 60 jaar is en die perseel ook ‘n provinsiale erfenisstatus geniet.
Die kerk by Kerkstraat 7, Malmesbury is geleë op erf 518 wat 4996m² beslaan en begrens word deur Kerk-, Rainier-, Plein- en Piet Retiefstrate.

Volgens die planne sal die jeugsentrum aan die suidoostelike kant (Rainierstraat) opgerig word. Die bestaande kerkgebou beslaan 788m² en die bestaande buitegebou 88m². Die beplande jeugsentrum sal uit twee vlakke bestaan – 195m² op grondvlak en 57m² op ‘n laer vlak.
In die Swartland Erfenisopname van Junie 2009 (nog nie deur Erfenis Wes-Kaap goedgekeur nie) word die struktuur as ‘n graad 2 geklassifiseer en word dit in die SA Erfenisregister gelys as ‘n provinsiale erfenisterrein, 9/2/060/0023. Dit word beskerm deur die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne (1999), artikel 34 (1).

Die nuwe gebou is bedoel om ‘n meervoudige fasiliteit te bied, insluitend ‘n jeugsentrum met badkamers en ‘n kombuis asook kantore aan die onderkant.
Die eerste kerkgebou op die perseel is in 1751 voltooi. Dit was ‘n kruisvormige, grasdak- en gewelkerk.
Dit is later in 1831 vergroot, maar omdat dit steeds te klein was, is ‘n nuwe kerkgebou in 1860 ingewy.



‘n Gedeelte het enkele jare later gedeeltelik ingeval en moes dit herbou word. Die toring het weer in 1877 ingeval en moes weer herbou word.
Die kerk is toe in 1899 vergroot met die aanbou van die vleuels tot sy huidige grootte.
‘n Ekstra gedeelte (buitegebou) is later aan die agterkant aangebou.

Die erfeniskonsultant Chris Murphy sê in sy verslag dat die beplande aanbouing en aanpassings syns insiens “nie die voorkoms of waarde van die bestaande gebou beïnvloed nie, en sal dit nie wesenlik verander nie. Die buitekant sal ongeskonde bly en deel bly van die oorblywende straatkonteks.” Hy stel voor dat ‘n permit toegestaan word.