Buite-Ekspo uitgestel tot later in jaar

Weens die Covid-regulasies wat steeds van krag is, was die organiseerders van die gewilde jaarlikse kykNET Buite-ekspo op Môreson buite Malmesbury verplig om dit na Oktober aan te skuif.

Marius Opperman van Trio Events sê: “Ongelukkig is die regstreekse impak van die regulasies dat ons die geleenthede moes verander en uitstel (Nie kanselleer nie).”
Die nuwe datum vir die kykNET Buite-ekspo (Wes-Kaap) is 22-24 Oktober vanjaar.
“Ons aanvaar dat dit belangrik is om lewens te red, maar terselfdertyd moet die ekonomie op ‘n verantwoordelike manier voortgaan.
“Ons is bewus van die ongerief vir uitstallers ook en wil graag om verskoning vra, maar dit is uiteraard buite ons beheer.
“Alle bestaande kontrakte sal steeds nagekom word en oorgedra word na die nuwe datum sodat niemand verloor nie.”

Hy wys daarop dat die Covid-infeksietoenames tans deurlopend afneem, “maar ons berei ons voor op die voorspelde derde golf van infeksies en weet natuurlik nog nie hoe dit ons sal beïnvloed nie.
“Ons is egter vol vertroue dat ons teen die laaste deel van 2021 in ‘n posisie sal wees om weer ons geleenthede aan te bied.

“Uiteraard besef ons ook dat dinge nie soos altyd sal wees nie en dat ons kreatiewer sal moet wees binne die Covid-protokolle wat op die dag van krag is.
“Bly asseblief veilig en hou by die Covid-19-regulasies vir u eie veiligheid sowel as dié van ander rondom u.
“Saam sal ons deur hierdie situasie kom solank ons nie roekeloos raak nie.
“Baie dankie vir elkeen se begrip.”
Kontak hom met navrae via e-pos by marius@ekspo.co.za.

Leave a Reply

error: Content is protected !!