EntertainmentLatest

Winterreise in Riebeek skop HC-program af

Die kunste, onder druk soos baie bedrywe, bly leef. Al is dit in nuwe gedaantes en op nuwe maniere.
In die Swartland is daar ‘n groeiende aanbieding van kuns – visueel, maar ook die uitvoerende kunste.
Die Riebeekvallei, Covid-aanpassings en al, raak ook ‘n al groter kunsbestemming.

Meer intieme byeenkomste is uiteraard die wagwoord in die pandemietyd en Hoofstraat Conceptual, waar dit ook nie anders is nie, het hul voorlopige program vir die volgende ses maande pas uitgereik. “Weens Covid het ons net 30 sitplekke.”
Die program skop af op 11 Julie met Winterreise in Riebeek van Franz Schubert (met Robert Brooks en Gisela de Villiers en inleiding tot die werk deur die bekende radiopersoonlikheid Nic de Jager).
“Ons het gedink dat die winter van 2021 en die derde golf van Covid ‘n gepaste agtergrond sou wees vir die uitvoering van Winterreise – sangsiklus vir stem en klavier (‘n stel van 24 gedigte geskryf deur Wihelm Müller en gekomponeer deur Schubert bykans 200 jaar gelede).

Brooks en de Villiers het Winterreise (“Wiente-rhaise”) ‘n paar jaar gelede by die Woordfees op Stellenbosch op die planke gebring en die gehoor op dié emosionele reis van lekkterkunde en musiek geneem, gevolg deur staande toejuiging.
Müller, ‘n digter, soldaat en bibliotekaris in Pruise is in 1827 op 33 oorlede en het waarskynlik nooit die eerste toonsettings van sy gedigte deur Schubert gehoor nie.

Die treurige karakter weerspieël die persoonlike trauma wat die Oostenrykse komponis Schubert self destyds beleef het. Winterreise vertel die verhaal van ‘n eensame reisiger wat die sneeu aandurf op reis om van sy verlore liefde ontslae te raak en ‘n warboel van verskillende emosies onderweg ervaar.
Robert Brooks (‘n boorling van KwaZulu-Natal) is ‘n deurwinterde internasionale tenoor en uitvoerende direkteur van Music is a Great Investment – Miagi (NPO). Hy het in onder meer Salsburg en Wene studeer en die grootste deel van sy sangloopbaan in Europa deurgebring en gesing in baie van die wêreld se groot teaters, waaronder die Weens Staatsoperahuis en La Scala Milano. Brooks sing ‘n repertorium wat wissel van opera en lieder tot tango’s uit Argentinië.

In Winterreise in Riebeek word hy begelei deur komponis, pianis en kabaretkunstenaar Gisela de Villiers. Sy het reeds verskeie CD’s van haar eie komposisies vir stem en klavier vrygestel en van haar koorkomposisies is plaaslik en internasionaal gepubliseer. De Villiers is ‘n ervare beoordelaar vir verskeie kompetisies en het ook vokale meesterklasse en koorwerksessies in Venesië in Italië aangebied. Sy is ook direkteur van die maatskappy Infullvoice Productions wat jong sangers oplei en nuwe talent ontwikkel.
*Hoofstraat Conceptual, geleë in Riebeek-Kasteel, is ‘n sentrum ontwerp vir kreatiwiteit.
Die eienaars, Rudolph en Emma Willemse, het hul 7 jaar gelede in die vallei gevestig. Rudolph is ‘n digter en fotograaf en Emma is ‘n konseptuele kunstenaar en kunsopvoeder.
Hoofstraat Conceptual is geïnspireer deur dié twee kunstenaars se visie om ‘n verwelkomende en inklusiewe private kreatiewe ruimte te skep wat gedeel kan word met ander. Dit is nie ‘n kommersiële sentrum nie en het nie ‘n winsdoelwit nie.
“Ons waardeer en wil plaaslike gemeenskapsprojekte soos die Riebeek Valley Steelband-projek en die Stone Circle-projek ondersteun.”
*Bespreek vir Schubert se Winterreise (in Riebeek) – Sondag 11 Julie om 11:00 by https://www.quicket.co.za/events/142628-winterreise-in-riebeek/#/
Dit sluit werke in soos Gute Nacht; Die Wetterfahne; Der Lindenbaum; Wasserflut; Irrlicht; Frühlingstraum; Der greise Kopf; Der Wegweiser en Der Leiermann.

3 tot 10 Oktober – Michael Blake Suid-Afrikaanse kontemporêre komponis en uitvoerende kunstenaar Met Displaced asook die Sterkfontein komponiste-byeenkoms en die Purpurfees, ter herdenking van die geboorte 100 jaar gelede van Joseph Beuys.
“Blake is tans in Frankryk gevestig en ons sien daarna uit om hom weer in die Riebeekvallei te ontvang.”
Hy word deur musiekkenner Stephanus Muller beskryf as ‘die belangrikste en invloedrykste Suid-Afrikaanse kunsmusiekkomponis wat sedert die koms van demokrasie in Suid-Afrika komponeer’.

16 Oktober – In samewerking met die Royal Arts Town-amfiteater (Rata) stel Nibs van der Spuy en Guy Buttery hul nuwe CD, Live in Lisbon by die amfiteater bekend – ‘n produksie wat saam vervaardig word deur Hoofstraat Conceptual en Rata
Dié vertoning sal ook Rata se tweede somerseisoen inlui.

28 November – ‘n Karoo-ervaring: bekendstelling van Antoinette Pienaar se bundel nuwe kortverhale en bespreking met en ‘n besigtiging van fotografie deur fotograaf Louis Botha.
*“Ons hoop op ‘n Karoo-geleentheid saam met Louis Botha EN Antoinette Pienaar. Ten tyde van publikasie kon Pienaar se teenwoordigheid nie bevestig word nie, maar die idee is dat dié bekende radiopersoonlikheid op RSG, skrywer, akteur, storieverteller en kruiekundige haar nuwe bundel kortverhale by die geleentheid sal bekendstel.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!