Snaar-duo sluit Kerksaal-seisoen meesterlik
Saterdagaand by Die Kerksaal op Riebeek-Kasteel het die gordyn op ‘n besondere 5-jaar van optredes voor ‘n groot gehoor gesak.
Maar nie voor die snaar-duo Guy Buttery en Nibs van der Spuy op meesterlike wyse hul jongste album daar bekend gestel het nie.
Dié twee wat reeds meer as twee dekades gelede die eerste keer saam op die verhoog was, se jongste album is in 2019 in Portugal opgeneem. Vandaar die naam, Live in Lisbon.
Covid-19 het hul gepootjie om intussen saam op te tree en hul is tans op toer met die album. Hul het 4 vertonings in die Wes-Kaap gehad en is nou in Kwazulu-Natal.
Al het beide reeds die afgelope 5 jaar by Die Kerksaal opgetree, was dit hule eerste keer saam op die verhoog daar. Saterdagaand se vertoning is aangebied as deel van die nuwe somerseisoen van die Royal Arts Town-amfiteater (Rata) op Riebeek-Kasteel.
Dit was ook die laaste musiekvertoning by Die Kerksaal nadat die eienaars, Rudolph en Emma Willemse, verlede week aangekondig het hul gooi hul gewig nou agter die Rata-span in vir toekomstige vertonings.
Buttery en Van der Spuy het Die Kerksaal se musiekseisoen op ‘n hoë noot afgesluit en dit was baie duidelik waarom dié album Live in Lisbon ook vroeër vanjaar vir ‘n Sama-toekenning genomineer is.
Dit was uitstekend.