Swartland kry nuwe tweelingvulstasies
As alles volgens plan verloop, sal twee splinternuwe vulstasies met vragmotorhawens (“truck stops”) teen Junie/Julie vanjaar 10 km noord van Malmesbury langs die N7 open.
Só vertel mede-eienaars van dié multimiljoenrand-ontwikkeling, Natie en Lenette Coetzer, aan dié courant.
Hulle hoop dat die eerste kontrakteurs reeds in Februarie op die terrein sal wees om te begin met die eerste een aan die westekant van die N7 by die ingang na AG Sprayers en Mother City Skydiving.
Volgens die beplanning sal die werk aan die tweede een (identies aan die eerste), direk oorkant – aan die oostekant van die N7, enkele weke ná dié aan die eerste een begin.
Die vulstasies sal deur Boland Bouers opgerig word.
Dié onderneming het, naas al hul groot projekte, ook ‘n paar jaar gelede die twee nuwe Shell Ultra City-komplekse op die N1 suid van Worcester opgerig.
Die nuwe Swartland-vulstasies sal twee Astron (die vervanging van Caltex)-vulstasies wees en van die eerste in die streek wat Astron se nuwe embleem en kleurskema dra.
Die “truck stops” met fasiliteite vir die vragmotorbestuurders word aan die agterkant van elke vulstasiegebou opgerig.
Volgens die beplanning sal elk van die vulstasies, ‘n “Country Store”-winkel, ‘n vida e caffè asook nog ‘n bekende kitskosrestaurant insluit. Die finale onderhandelinge vir laasgenoemde vind tans plaas.
Natie Coetzer vertel dat hy eers vir twee dekades in die bankwese was en daarna ook vir ‘n lang ruk tot nou in die konstruksiebedryf. Hy en sy vrou, Lenette, het hulle nou van Burgersfort in Limpopo op Malmesbury gevestig.
“Ons is baie opgewonde en die Here het vir ons soveel deure oopgemaak. Ons hoop ook om ‘n verskil in hierdie gemeenskap te kan maak.”
Lenette sê die proses vir die vulstasies is reeds 6 jaar aan die gang.
Die Caltex-groep het hul vriende van Claassens Boerdery destyds genader om vulstasies op hul grond op te rig, waarna Koot Claassen die Coetzers oor dié idee gepols het.
Die proses het toe begin.
Daar was heelwat toestemmings wat verkry moes word, onder andere om die 3,15ha landbougrond vir elke vulstasies te hersoneer.
Volgens die beplanning sal die projek tydens die konstruksiefase ‘n groot aantal werksgeleenthede vir mense uit die Swartland skep en ná voltooiing sowat 70 permanente poste.
Die Coetzers is vennote in die projek met Igor Pinto wat ook die eienaar is van Caltex-vulstasies op Ceres en Rawsonville.
*Natie is die ouer broer van die bekende oud-bokser Pierre Coetzer.