Besoekers kan weer uitsien na Buite-ekspo
Buitelugmense kan uitsien na ‘n propvol program by vanjaar se kykNET Buite-ekspo wat van 25 tot 27 Maart weer op Môreson langs die N7 gehou word.
Ná bykans twee jaar waarin groot geleenthede en talle buitelugaktiwiteite nie kon plaasvind nie, verseker Marius Opperman (organiseerder van die gewilde ekspo) dat volle Covid 19-protokol, soos voorgeskryf, gevolg sal word.
“Ons is baie dankbaar dat ons weer ‘n ekspo kan aanbied en het reeds die nodige aanpassings gemaak om streng by die voorskrifte te hou.
“Ons besoekers en uitstallers se gesondheid kom eerste en daarom tref ons al die nodige maatreëls in dié verband.”
Al het Covid-19 heelparty logistieke aanpassings genoodsaak, sal dié ekspo, wat reeds sedert 2014 op Môreson naby Tierfontein aangebied word, weer propvol hoogtepunte wees, sê Opperman.
Soos gebruiklik beloof die ekspo in ‘n veilige plaasatmosfeer weer ‘n wonderlike geleentheid te wees vir die buitelugliefhebber met die fokus op buitelewe-uitstallers wat ook hul nuutste produkte in die kampeer- en 4×4-mark kom ten toon stel.
Op die kykNET Buite-ekspo kan besoekers eerstehands sien hoe die produkte aangewend word.
Daar is iets vir almal op die program. Onder die aktiwiteite tel Action Ford Malmesbury se Ford Raptor Ervaring waar die publiek gratis saam met ervare bestuurders kan ry en sien waartoe dié besondere voertuig in staat is.
Daar is ook weer die gewilde helikopterritte om die ekspo en omgewing uit die lug te kan besigtig.
As jarelange vennoot van die ekspo sal Jimmy’s Sauces weer ‘n unieke braaikompetisie aanbied met kykNET-akteurs.
Die Hankook-verhoog skep weer ‘n platform vir top-kunstenaars wat ekspo-gangers sal vermaak.
Volgens Opperman sal hul die name van die kunstenaars by vanjaar se ekspo binnekort bekend maak.
Die organiseerders maak ook voorsiening vir die honger mae en droë kele met ‘n groot verskeidenheid feeskosstalletjies en “vloeibare verversings.
“Ook vir die dames is daar die kuns- en snuffelmark waar ‘n groot verskeidenheid van hierdie kwaliteitprodukte beskikbaar sal wees.
“Ons het nie vergeet van die kinders nie en daar sal ‘n lekker groot pretpark wees en Lollos verras weer die Sondagoggend met een van hul treffervertonings.”
Opperman sê hulle sal oor die volgende paar weke nog interessante aktiwiteite aankondig.
Kaartjies sal binnekort beskikbaar wees by Computicket en ook by die hekke tydens die ekspo.
Besoek gerus die webwerf www.ekspo.co.za vir meer inligting en alle uitstallersnavrae kan gerig word aan Tersia by accounts@ekspo.co.za.