First Fridays vier herfs, koop plaaslik
Dit is weer tyd vir die Riebeekvallei se maandelikse First Fridays-naweek.
Hierdie ronde (van 1 tot 3 April) het die naweek twee temas – Herfs (die verandering van die seisoen) en Ondersteun Plaaslik.

Die naweek skop Vrydag af met die opening van Riebeekvallei Toerisme se MIR(Made in Riebeek)-winkel.

Oor dié projek sê voorsitter Sean Cleary-Le Grange: “Ons weet almal dat wanneer jy plaaslike besigheid ondersteun:
• jy die geld in jou plaaslike ekonomie hou;
• jy die uniekheid van ons gemeenskap help vier;
• jy plaaslike werksgeleenthede ondersteun;
• jy help die omgewing help;
• jy gemeenskap aanmoedig;
• jyvoordeel uit ons plaaslike kundigheid trek;
• jy in entrepreneurskap belê en
• jy van ons gemeenskap ‘n bestemming maak.”

Daar is weer volop spesiale aanbiedinge by restaurante en langer handelsure Vrydag met musiek deur Jannie en Heinie van den Heever in Short Street by die Riebeek Valley Wine Company se Emporium vanaf 18:00. Gaste kan ook die “kraakvars” 2022 Chenin en Sauvignon Blanc proe. Vanaf 19:00 maak Ruki musiek by die Jolly Olive Kroeg en Bistro.

Saterdagoggend is dit weer die maandelikse mark op die plein in Riebeek-Kasteel.

Sondagoggend om 11:30 open Tamzin Lovell-Miller die volgende kunsuitstalling by RK Contemporary, MESH, the fabric of Friends. Die werke van Colleen Alborough, Emma Willemse, Gwenneth Miller en Mandy Conidaris sal op uitstalling wees tot 24 April.

Sondag is daar, soos gebruiklik, ook weer die gewilde Poetry Jam-sessie by Rata (Royal Arts Town-amfiteater).