LatestSports

Abbotsdale verstewig plek bo-aan punteleer

Ná ’n effe sukkelende vertoning op hul tuisveld teen Porterville die vorige naweek, was die span van Abbotsdale Saterdag oorgehaal om hul spelpeil te verbeter teen Good Hopes van Riebeek-Wes.

Die Lillies wat as een van die gunstelinge in die liga bestempel word, het tot dusver in die seisoen nog nie op alle sillinders gevuur nie en was oorgehaal om alles in die stryd te werp om hul onoorwonne status te behou.
Die besoekende Abbotsdale het die wedstryd baie goed begin en in die eerste twintig minute die tuisspan onder groot druk geplaas. Hiervoor is hulle vroeg in die wedstryd met twee drieë deur vleuel Berthrum Gysenberg beloon en kon só ’n voorsprong van 13-6 opbou.

Sergio Prins, senter van Abbotsdale, was vol planne in Saterdag se wedstryd op Riebeek. Foto: Manfred Erasmus


Good Hopes het op hul beurt nie op hul louere gerus nie en op hul tuisveld stelselmatig hulself terug in die wedstryd gespeel. Ná ’n tydperk van goeie gebiedsvoordeel en ‘n paar ongedwonge foute deur die Lillies het Good Hopes met ’n paar strafskoppe deur die pale die voortou in die wedstryd geneem.

Andrew Jantjies, slot van Abbotsdale, word deur verdedigers van Good Hopes gestuit. Foto: Manfred Erasmus

Daar was egter ook swak dissipline en twee rooikaarte aan die kant van die tuisspan wat uiteindelik hul ondergang was en Abbotsdale kon die wedstryd met 23-20 wen.

Die komende naweek speel Abbotdale tuis teen die gedugte span van Never Despair. Alhoewel Abbotsdale onoorwonne is, het Never Despair gelykop gespeel teen Wesbank en ook die span van Darling geklop.
Die Tiere, soos Never Despair bekend staan, sal vol selfvertroue Saterdag op Abbotsdale opdaag en ’n riller van ’n wedstryd word verwag.
Die hekke van die Abbotsdale-sportgronde open om 11:00 vir toeskouers. – (Heinrich Robertson, mediabeampte)

Leave a Reply

error: Content is protected !!