Werk aan vulstasiekomplekse langs N7 begin
Die grondwerke vir twee nuwe vulstasiekomplekse oorkant mekaar 10 km noord van Malmesbury langs die N7-snelweg het begin.
Mede-eienaar Natie Coetzer sê aan dié courant hy is opgewonde oor die projek nadat dit ‘n paar maande vertraag is.
Hy sê elkeen van die komplekse sal naas ‘n vulstasie, ook ‘n vragmotorhawe (“truck stop”), OK Express-winkel, ‘n vida e caffè en ‘n Steers-kitskosrestaurant huisves.
Volgens die huidige beplanning sal die een kompleks (wes van die N7), by die huidige ingang na AG Sprayers en Mother City Skydiving, teen die einde van Oktober of vroeg in November vanjaar sy deure open. Die ander een oorkant die pad behoort ‘n maand of wat later voltooi te wees. Elke terrein beslaan 3,15ha.
dié courant het vroeër berig dat daar tydens die konstruksiefase ‘n groot aantal werksgeleenthede vir mense uit die Swartland geskep sal word en ná voltooiing sowat 70 permanente poste.
Coetzer en sy vrou, Lenette, is vennote in die projek met Igor Pinto wat ook die eienaar is van Caltex-vulstasies op Ceres en Rawsonville.