LatestSports

Lillies klop Spairs in strawwe stryd

Dit was van meet af aan ‘n uitgemaakte saak dat daar min te kies sou wees in die derby-stryd tussen Abbotsdale en Never Despair die afgelope naweek op die Abbotsdale-sportgronde.
Alhoewel die tuisspan nog onoorwonne was, het Never Despair die wedstryd vol selfvertroue aangepak nadat hulle in hul vorige wedstryd die span van Darling geklop het.

Die spanne het nie teleurgestel nie en van vroeg af die krane oopgedraai, met nie een wat bereid was om vir die ander terug te staan nie. Dit was veral die voorspelers van beide spanne wat behoorlik ingeklim het onder mekaar en selfs in die skrums was daar Saterdag min te kies tussen die spanne.
Abbotsdale kon wel eerste hul gebiedsvoordeel in punte omskep toe die binnesenter, Lingkem Josephs, met brute krag die verdediging van Never Despair oopgekloof het om onder die pale te druk.
Met 7-0 voor, het die tuisspan Never Despair se verdediging al meer uitgedaag, maar die besoekers se baljagters was uitstekend en kon so talle aanvalsbewegings van Lillies in die kiem smoor. Abbotsdale se kaptein, Milroy Isaacs, is kort voor rustyd oor die doellyn vir sy span se tweede drie om met ‘n voorsprong van 14-0 te gaan water drink.

In die eerste periode ná rustyd het Never Despair se losskakel, Sherwin Dyson, sy span met goeie skopwerk deurgans op die voorvoet gehou. Abbotsdale se agterspelers het op hul beurt met die gemaklike voorsprong kans gesien om die bal van baie diep uit hul eie gebied in die hand te hou.
Never Despair het ook kanse van sy eie geskep, maar oordeelsfoute en hantering het hul in die steek gelaat. Die besoekers se Delano Baartman en Henry Jeffries was puik in die vastelos en het telkemale oor die voordeellyn gekom.
Shane Niemand, plaasvervangerflank van Abbotsdale, het ‘n massiewe impak vir die tuisspan gemaak en is ook met Lillies se derde drie beloon om die telling 24-0 in die guns van Abbotsdale te maak.

Never Despair kon diep in die tweede helfte twee onverdoelde drieë druk om die telbord tot 24-10 te laat aanrol. Dit was ook die eindtelling.
*Abbotsdale speel die komende naweek weg teen Moorreesburg, wat Saterdag naelskraap teen Wesbank verloor het. – (Heinrich Robertson, Abbotsdale mediabeampte)

Leave a Reply

error: Content is protected !!