Swartland vir “groot bedrag” verkoop
In een van die grootste saketransaksies in die geskiedenis van die Swartland het die Hanekom-broers van die Swartland-groep pas die vervaardigingsbene van dié groep vir ‘n “groot bedrag” aan Lonsa Everite verkoop.
Die voorsitter van die groep se raad, Jurie Hanekom, sê hy het met die koper ooreengekom om nie die koopsom bekend te maak nie. Hy sê die waarde van die groep het die laaste jare skerp toegeneem en dat die groep in die laaste finansiële jaar ook ‘n rekordwins gemaak het.
Sover dié courant kon vasstel is die hele groep ‘n paar jaar gelede reeds vir meer as ‘n R1 miljard gewaardeer, maar Hanekom wou dit nie bevestig nie.
Die drie Hanekom-broers, Jurie, James en Hans, het die groep met sy hoofkantoor op Moorreesburg oor die laaste jare tot ‘n reus in die boubedryf uitgebou en nou die ondernemings Swartland Investments en Swartland Insulation verkoop.
Jurie en Hans (hoof uitvoerende beampte) sal, as deel van die transaksie, nog vir die volgende drie jaar aanbly.
Die kontrakte is verlede week onderteken en oorname is, met enkele opskortende voorwaardes wat nog nagekom moet word, tans geskeduleer vir 1 Julie vanjaar.
Die familie het wel, naas die persele van die vervaardigingsaanlegte in Moorreesburg, Atlantis en in Tsitsikama wat deel van die transaksie uitmaak, al die ander verhuringseiendom in hul portefeulje uitgehou.
Die groep het verspreidingspakhuise in al die groot sentra in Suider-Afrika waaronder drie in Johannesburg, asook in Nelspruit, Durban, Oos-Londen, Gqeberha, George, Parow en Windhoek.
Die grootste pakhuis is die een by hul vervaardigingsaanleg in Atlantis (meer as 25 000 m²).
Produkte word ook na Eswatini en Botswana en oorsese lande soos die VSA en Engeland uitgevoer.
Hanekom sê aan dié courant die transaksie beïnvloed nie die personeelkorps van 1 500 werknemers nie. Hulle kan almal aanbly.
Die Swartland-groep was verlede jaar 70 jaar oud en is bekend daarvoor dat hulle baanbrekerswerk gedoen het met die vervaardiging van hout- en aluminiumvensters en -deure vir die Suid-Afrikaanse mark en die buiteland.
Die Swartland-storie het in 1951 begin met Oupa Hanekom wat op Moorreesburg begin het om die gemeenskap van hardeware en elektriese goedere te voorsien. Kort voor lank het hy ook in skrynwerk begin spesialiseer.
Sy seun, Jurgens, het later die leisels oorgeneem en dit is uitgebou na die vervaardiging en verspreiding van vensterrame en deure en Swartland het ‘n huishoudelike naam in die boubedryf geword met die bekende leeu op die embleem.
Die derde geslag (die drie broers) het mettertyd oorgeneem en ook die produkreeks uitgebrei met verwante handelsmerke.
Hulle pa, Jurgens is in 2020 oorlede.
Hanekom vertel dat hy verlede jaar voorgestel het hulle moet die moontlikheid ondersoek dat Lonsa Everite se produkte saam met dié van die Swartland-groep op laasgenoemde se “wêreldklas” uitgebreide verspreidingsnetwerk versprei word. Daar is meer as 2000 afleweringspunte landwyd.
Gesprekke het begin en toe Lonsa Everite van ‘n vennootskap begin praat, het die Hanekoms eerder ‘n oorname voorgestel.
Dit was in September 2021 en nou is die transaksie beklink.
En wat gaan hulle nou doen? “Ons sal op ons eiendomsportefeulje fokus en dit uitbou en seker in die toekoms weer in besighede belê.”
Die beleggingsgroep Lonsa het die beherende aandeelhouding in Everite, ook ‘n vervaardiger van bouprodukte, verlede jaar vir R600m van Group 5 gekoop.
Lonsa staan onder die bestuur en voorsitterskap van Robin Vela (50). Hy is in Engeland gebore met Zimbabwiese ouers. Vela, steeds ‘n Arsenal-ondersteuner, woon in Johannesburg. Hy is ‘n gekwalifiseerde en ervare beleggingsbankier en onder meer ‘n genoot van die Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters van Engeland en Wallis.