Lillies, Wesbank dié naweek slaags
Abbotsdale en Moorreesburg het Saterdag sjampanje-rugby opgedis in hul rugbywedstryd op die Rosenhof-sportgronde in Moorreesburg. Nadat die tuisspan die vorige week naelskraap teen die span van Wesbank verloor het was hul oorgehaal om die bordjies te verhang en om Abbotsdale in hul onoorwonne lopie te stuit.
Die besoekers het egter uit die staanspoor gewys waarom hul tans die voorloper in die liga is en was vinnig met 17-3 voor danksy drieë deur Curt-Lee Klaasen, Lingkem Joseph en Shelton Appollus. Moorreesburg het egter by tye briljante rugby opgedis en was glad nie van plan om tou op te gooi nie. Ná volgehoue druk en slim taktiese skopwerk deur die tuisspan, druk Jehann Bonn ’n drie en nadat die skeidsregter ook ’n strafdrie aan die tuisspan toegeken het, kon hulle rustyd gaan water drink met die telling 20-17 in hul guns.
Die twee pakke voorspelers het goed opgeweeg teen mekaar, maar dit was beide agterlyne wat die skare partykeer na hul asem laat snak het met puik hantering en baie goeie vaardighede op die nat veld. Milroy Isaacs het ’n reuse-impak gemaak toe hy vir die Lillies op die veld verskyn het en is oor vir ’n drie om sy span weer 24-20 voor te plaas.
Moorreesburg se tuisskare het bankvas agter hul span gestaan en dit was duidelik dat die tuisspan alles in die stryd sal werp om ’n oorwinning te behaal. Ná ’n tydperk van goeie gebiedsvoordeel druk Binwill Alexander ’n drie vir Moorreesburg om weer die voortou in die wedstryd te neem.
Dié wipplankstryd kon enige kant toe swaai en was dit belangrik dat beide spanne goeie dissipline handhaaf. Abbotsdale se Wiam Syster is kort voor die einde oor die doellyn vir die beslissende drie om aan die besoekers ‘n oorwinning van 31-27 te besorg.
Hierdie komende Saterdag speel Abbotsdale tuis teen Wesbank, tradisioneel een van die grootste klubrugbywedstryde in dié geweste. – (Henrich Robertson, Abbotsdale mediabeampte)