Kadettegroep skep alternatief vir die jeug
Ons wil deur ons kadettegroep beter geleenthede vir die jeug skep sodat hulle positiewe veranderinge in hul onderskeie gemeenskappe kan bring.
Só gesels die stigter van die Swartland Gemeenskap-kadettegroep, Chantal Snel.
Sy sê dié organisasie sonder winsbejag is verlede jaar in die lewe geroep met die hoofdoel om jeugontwikkelingsprogramme van stapel te stuur en ook om ’n alternatief te bied vir die sosiale uitdagings wat die jeug in die gesig staar.
“Ek wil ook graag met ander organisasies hande vat om ’n groter inpak te maak,” het Snel gesê.
Dié geregistreerde organisasie is in Julie 2021 gestig en poog om gemeenskapsontwikkeling te bewerkstellig deur die jeug te leer om verskeie musiek-instrumente te bespeel en te marsjeer.
Hulle werk tans in Kalbaskraal, Riebeek-Kasteel en Riebeek-Wes en beoog ook om binnekort uit te brei na ander dorpe soos Abbotsdale.
Besighede en organisasies wat met hulle in kontak wil kom, kan Chantal by 078 547 7597 skakel.