Lillies bly bo ná Darling-stryd
Abbotsdale se rugbyspanne het Saterdag gasheer gespeel vir Darling en die besoekers se eerste span het die tuisspan wat onoorwonne bo-aan die punteleer is, onder groot druk geplaas.
Beide hierdie spanne word as groot aanspraakmakers op die ligatitel bestempel en die toeskouers het weliswaar ’n naelbytstryd tussen die twee spanne verwag.
Darling het goed begin met ’n vroeë 3 punte (strafskop) van die skopvoet van losskakel Earl Lewis. Die besoekers se blitsige vleuel Hubert Cleophas het ook ’n agterlynbeweging van Abbotsdale soos ’n boek gelees, die bal onderskep en sowat 50 meter gehardloop om sy span se eerste drie te druk. Lewis het dié ook verdoel.
Dié losskakel het Darling se voorsprong later met nóg drie punte laat rek toe hy ‘n puik strafdoel aangeteken het. Darling was toe 13-0 voor met die druk vierkantig op die tuisspan. Al het Abbotsdale baie balbesit gehad het, het baie van hulle agterlynbewegings skipbreuk gelei met Darling wat verskeie teenaanvalle geloods het ná ongedwonge foute deur die tuisspan.
Abbotdale het egter die druk volgehou en Bertrum Gysenberg het met ’n strafskop geslaag om die tuisspan se eerste punte aan te teken. Dit was belangrik vir Abbotsdale om binne trefafstand te bly en die Lillies se skrumskakel, Eldine Hein, is kort voor rustyd oor die doellyn om die rustydtelling 13-8 in die guns van Darling te maak.
In die tweede helfte het Abbotsdale se voorspelers stelselmatig in die wedstryd gekom en dit was veral Gurshwin Swarts (slot) wat telkemale suiwer lynstaan-bal vir die tuisspan gewen het.
Nadat Darling ’n speler vir 10 minute moes afstaan weens ’n geel kaart, het Lillies se voorspelers ’n goeie rolmaalbeweging begin en hul haker, Shelton Appolus, het oorgeval vir ’n drie om sy span die eerste keer te laat voorloop met die telling op15-13.
Darling se voorspelers het hul man gestaan en ná ’n rolmaal van byna 15 meter het die besoekers verwoed aangeval voordat Earl Lewis die verdediging geflous het om oor te duik vir ’n verdoelde drie om die besoekers weer met 20-15 voor te plaas.
Net toe dit lyk of Darling die knoop sou deurhak, het Draigh Schieroudt met ses minute speeltyd oor, die spoedvraat-vleuel Aiden Lawrence hoek toe gestuur vir ’n drie. Wiam Syster kon ongelukkig nie met die doelskop slaag nie en die telling was 20-20.
Dit het die tafel gedek vir 6 minute van spannende rugby met beide spanne wat net nie wou bes gee vir ’n gelykop-uitslag nie.
Die wedstryd kon enige kant toe gaan, maar die eindtelling van 20 punte elk is ’n ware refleksie van sake.
Abbotsdale reis hierdie komende naweek na Wittewater vir wegwedstryde teen Villagers Wittewater.
*Abbotsdale se spelers, toeskouers en bestuur wens Wilton Tango ook beterskap toe nadat hy mediese behandeling moes ontvang ná kontak met ‘n spanmaat. Hy sterk tans goed aan. – (Heinrich Robertson, mediabeampte van Abbotsdale)