Swartlander se 2de (en 1ste) eersdaags op winkelrakke
Die Sandvelder Andre Smith is reeds lank ‘n inwoner van die Swartland. Hy het verlede jaar die algehele tweede plek in die Afrikaanse afdeling van ‘n nasionale kortverhaalkompetisie losgeskryf en ook gedebuteer met sy bundel My Sandveldbos. Laasgenoemde was ‘n selfpublikasie en is reeds uitverkoop.
Sy “komvandaan” is die “klein dorpie Redelinghuys in die hartjie van die Sandveld.
Kort op die hakke van dié “hoogtepuntjaar”, soos Smith dit beskryf, kan lesers nou uitsien na ‘n nuwe boek uit Smith se pen asook die tweede druk van My Sandveldbos wat in boekwinkels landwyd op die rakke sal wees.
Smith vertel: “Verlede jaar was inderdaad ‘n hoogtepunt in my kort skrywersloopbaan. Ek het baie hard gewerk om uiteindelik in my doel te slaag, maar moet daarmee saam erken dat ek elke oomblik van die reis terdeë geniet het. Beide die kortverhaalbundel sowel as my debuutbundel was baie goed deur ons lesers ontvang en beide bundels is uitverkoop.”
Smith het bly woeker en ‘n uitgewer genader om ‘n tweede druk van My Sandveldbos te publiseer. Hy het in dieselfde tydperk ook ‘n ander uitgewer genader om van sy nuutste werke te publiseer. Beide manuskripte is nou binne ‘n maand deur beide uitgewers goedgekeur vir publikasie. “Ek is in absolute ekstase oor dié wonderlike nuus,” vertel Smith, wat op Riebeek-Kasteel woon.
My Sandveldbos se tweede druk is deur Minimal Press Uitgewers in Kaapstad goedgekeur vir publikasie en sal teen einde September in boekwinkels asook aanlyn beskikbaar wees.
Smith sê sy tweede boek “met die voorlopige titel Die knokkerboom sal weer bot is as manuskrip goedgekeur deur Malherbe Uitgewers, ‘n uitgewersmaatskappy in Kwazulu-Natal.
“Dié boek bevat ‘n seleksie van inspirasiestories en rubrieke wat ‘n moet-lees is vir elke persoon wat op ‘n daaglikse basis die uitdagings in ons land probeer trotseer. Dis gevul met soveel hoop, lig, lag en inspirasie. Jy wil nie hierop uitmis nie,” gesels die skrywer opgewonde. Dié werk sal ook landwyd in boekwinkels asook aanlyn beskikbaar wees vanaf Desember.
Smith sê vir hom is dit ‘n kwessie van harde werk wat uiteindelik vrug begin dra. Hy is ‘n gereelde rubriekskrywer vir verskeie publikasies. – (persverklaring)