Beleggings groot en klein welkom – Cleophas
Die Swartland is dankbaar vir elke belegging groot en klein want dit bring ekonomiese groei.
Só het die burgemeester van die Swartland Munisipaliteit, raadsheer Harold Cleophas, vanoggend gesê by die bekendstelling van die eerste platform vir die nuwe vulstasiekomplekse wat langs die N7-verrys.
Hy het gesê die Swartland is ‘n goeie plek vir beleggers “omdat dit in ‘n onafhanklike studie as een van die vier beste munisipaliteite in die land aangewys is, omdat hier politieke stabiliteit is” en “omdat ons die beleggings waardeer.
“Ekonomiese groei help ons om vooruit te gaan en diens aan ons inwoners/kliënte te lewer.”
Cleophas het Natie en Lenette Coetzer bedank vir die belegging om die twee Astron Energie-vulstasies sowat 10 km noord van Malmesbury op te rig.
Natie Coetzer het almal betrokke bedank vir hul bydrae tot dusver. As als volgens plan verloop kan die eerste van die twee vulstasies (die een aan die westekant) in Oktober vanjaar open.
Die byeenkoms is geopen deur ds. Francois Naude van Riebeek-Kasteel wat jare gelede saam met Coetzer in die Valskermbataljon was.
Coetzer het die Swartland Munisipaliteit en spesifiek ook Alwyn Zaayman, hoof van stadsbeplanning, geloof vir die manier waarop hul uit hul pad gegaan het om die proses te help vergemaklik.
Die tweeling-vulstasies sal die eerste van hul soort in die Wes-Kaap wees wat die nuwe Astron Energie (voorheen Caltex)-etiket sal dra. So het JP Swart van Moov Fuel, Astron Energie se brandstofverspreider in die Wes-Kaap, gesê. “Ons is baie opgewonde oor dié projek,” het hy bygevoeg.
Coetzer het vroeër aan dié courant gesê elkeen van die komplekse sal naas ‘n vulstasie, ook ‘n vragmotorhawe (“truck stop”), OK Express-winkel, ‘n vida e caffè en ‘n Steers-kitskosrestaurant huisves.
Die Coetzers is vennote in die projek met Igor Pinto wat ook die eienaar is van Caltex-vulstasies op Ceres en Rawsonville.
Die munisipale bestuurder, Joggie Scholtz, het vanoggend vertel dat hy die besondere band wat hy ervaar het toe hy Coetzer ontmoet het, aanvanklik nie kon verstaan nie, maar intussen besef het hulle was albei baie siek van Covid-19 en “ons het beide by die poorte omgedraai”. “Maar die Here het ons lewens gespaar omdat ons albei nog werk het om hier te doen.”
Oor die munisipaliteit het Scholtz gepraat oor gedeelde visie wat hy en burgemeester Cleophas het en dat Swartland ‘n “competitive edge” het, “omdat beide ek en die burgemeester bid”.