Skildergroep se uitstalling duur tot Vrydag
‘n Skildergroep van Malmesbury wat weekliks vir drie ure saam skilder onder leiding van Jana van Vuuren, stal vandeesweek hul werke uit by Die Kuierhijs in Piet Retiefstraat.
Die uitstalling is gisteraand geopen met innoverende beligting tydens twee van Eskom se donker ure.

Agt kunstenaars se werke, meesal olie, is op uitstalling en kan daagliks besigtig word van 08:00 tot 17:00, wanneer Die Kuierhijs oop.
Die kunstenaars wie se werk op uitstalling is, is Maryke Mesecke (Ryke), Erna Thiart, Elana Gunter, Louisa Lombard (LL), Adelle Styger, Sonja Laas, Elzette van Schalkwyk en Jana van Vuuren.

Maryke Mesecke( Ryke) van Kalbaskraal skilder al vir min of meer 4 jaar. “Ek leer nog elke dag en geniet elke oomblik.” Haar werk trek meer na die abstrak/anders. Haar gunsteling-mediums is olie en houtskool.

Erna Thiart van Malmesbury “geniet dit om kreatief te wees en nuwe uitdagings aan te pak”. Haar gunsteling-medium is olieverf.

Elana Gunter van Malmesbury vertel al “die kunswerke is gedoen by my ontspannings/kuieraande by Jana se kunsklas. Ek hou van alle genres behalwe tonele van diere en mense. My voorkeur is olieverf.”

Louisa Lombard (LL) van Malmesbury sê sy “leer verf en doen dit vir ontspanning en hou van olieverf”.

Adelle Styger van Malmesbury “het tydens die 2020-”lockdown” begin verfklasse neem. Ek leer so baie en geniet elke oomblik daarvan.” Sy verkies olie as verfmedium en hou van landskappe en blomme verf.

Sonja Laas van Malmesbury sê sy voel sy “weet nie veel van kuns nie, maar tydens my chemo-behandeling het ek ‘n kwas opgetel om die vroeë oggendure om te kry. Verf bly ‘n inspirasie om die daaglikse mooi te waardeer. Ek geniet akriel sowel as olie as verfmediums en het ‘n liefde vir abstrak en leer daagliks.”

Elzette van Schalkwyk van Malmesbury sê “die afgelope 8 jaar is skilder haar stokperdjie. Ek het geen professionele opleiding gehad nie en leer nog elke dag.” Sy gebruik graag akriel en soms olieverf en verf meestal landskappe.


Jana van Vuuren van Malmesbury sê verf is een van haar “talle stokperdjies en ek geniet dit om myself elke keer te “challenge”. Ek verf in verskillende mediums, maar akriel en olie is my gunstelinge. Ek werk op kommissie en daarom verf ek alle genres.


“My gunsteling-gesegde is: Mens is nooit te oud om te leer nie en sukses is een persent weet en 99 persent sweet…en in elkeen is daar ‘n stukkie kreatiwiteit.”
Van Vuuren vertel die groep, Die Kwaikwassies, verf Dinsdagaande vanaf 18:30 en die groep bestaan uit beginners en “bietjie meer gevorderde” kunstenaars.
Vir enige navrae, kontak Maryke Mesecke by 083 233 7402.