EntertainmentSchools

HSS se Droomreis ‘n prettige musiekblyspel

“… toe stap ek verby ‘n stalletjie met chameleons – beelde van chameleons – en ek word absoluut nader getrek. Ek sê jou, dit was uncanny, magical… ‘n onsigbare, magiese magneet trek my nader … soos in ‘n droom …”

Maddie (Madelein) is ‘n lewensmoeë enkelma-onderwyser met twee kinders op universiteit.
Soms wens sy sy was meer avontuurlik en het eerder eksotiese reise onderneem, eerder as om standvastigheid en sekuriteit eerste te stel.
Dan gee haar eksentrieke vriendin, Tatiana, vir Madelein ‘n vreemde verkleurmannetjie as geskenk en neem haar gedagtes haar op reis na wonderlike plekke…

Die prettige musiekblyspel Droomreis is later vandeesmaand op die planke by die Hoërskool Swartland.
Dit is die eerste keer in jare wat die skool weer só ‘n produksie met ‘n belewenis van musiek, dans en drama kan aanbied en die maande se voorbereiding en toewyding beloof weer ‘n ervaring te wees om nie mis te loop nie.

Droomreis het ‘n rolverdeling wat uitstekende solosang insluit. Onder dié stemme tel CJ van Aarde (Willem, droomman, toergids), Dané Viljoen (Madelein), JP Truter (Jan, Madelein se oorlede man), Martine Versfeld (die jonger Madelein), Lara Cotter (Franse Mademoiselle), Martin Ras (Fergus, Gipsy ‘prins’) en Yvana Scott (Tatiana).
Ander leierrolle word vertolk deur De Wet Visser (Madelein se seun, Stefan, asook Gary), Ninke-Maré Knoetze (Lizelle, Madelein se dogter) en Abigail Lourens (Ierse danser). Die energieke dansers en bekende liedjies dra by tot die genotvolle ervaring van ‘n Droomreis.

Hoërskool Swartland bied dié reiservaring op 31 Augustus en 1 September in die skoolsaal aan en dit begin elke aand stiptelik om 19:00.

Kaartjies is beskikbaar by die skool se finanskantoor (daagliks van 09:00 tot 14:30) en beloop R80 vir kinders en R120 vir volwassenes.
Gaan reis gerus saam en beleef die spelers se talent en toewyding.

Leave a Reply

error: Content is protected !!