EntertainmentNews

Obie se fotouitstalling, nuwe boek by Solo Studios

Een van ons land se internasionaal bekendste fotograwe en oud-lektor Obie Oberholzer kom stel aanstaande week sy splinternuwe koffietafelboek Happysadland vars van die drukkers in die Swartland bekend.
Oberholzer se nuutste solouitstalling open op sy 75ste verjaarsdag by Pictorex op Riebeek-Kasteel as deel van vanjaar se Solo Studios-naweek van 26 tot 28 Augustus.

Hy en sy vrou, Lynn, woon al die afgelope klompie jare op Nature’s Valley.
Bekend vir sy unieke foto’s en tientalle solouitstallings plaaslik en internasionaal, sê Oberholzer hy probeer om dinge waar baie mense verby sal ry of nie raaksien nie, vas te vang. Hy “máák liewer foto’s eerder as wat hy hulle neem” en “hou ook van landskappe wat ‘n bietjie meer abstrak of eienaardig is.”
Die openingsgeleentheid van sy foto-uitstalling For The Love Of It is Vrydagaand 26 Augustus om 19:00.

Happysadland is sy 15de koffietafelboek en sal by Pictorex beskikbaar wees.
Oberholzer doen oor die naweek ook twee aanbiedings in die kelderteater van die Kunshuis op Riebeek-Kasteel – Saterdag 27 Augustus om 15:00 en Sondag om 11:30.

Hy het op Kameeldrif grootgeword. Sy passie vir fotografie, vertel hy, het op 12-jarige ouderdom by die toring van Pisa begin.
Daar in die laat 50’s het hy ‘n foto geneem en die leunende toring regop gedraai met al die ander geboue skuins.
Hy het ná skool grafiese ontwerp op Stellenbosch begin studeer en later in die vroeë 70’s 4 jaar in Munchen aan die Bayerische Staatslehranstalt für Photographie (“Bavarian State Institute for Photography”) studeer vir sy meesterdiploma in fotografie. Hy was daarna dosent aan die Natal Technikon en is toe aangestel as fotografiedosent by Rhodes Universiteit waar hy later departementshoof was van 1984 tot sy aftrede in 2002.

Sy eerste koffietafelboek Ariesfontein to Zuurfontein het reeds in 1988 verskyn met die bekende foto van Ouma Roos Cloete van Eksteenfontein op die voorblad.
Hy hy haar later weer op ‘n voorblad van ‘n volgende boek gebruik met ‘n foto waar sy die eerste boek vashou.
Onder die ander titels tel Beyond Bagamoyo: A Journey from Cape to Cairo; Raconteur Road; The Hotazel Years; Round the Bend; Obie – A photographic story book, Karoo – Long Time Passing en Long Ago Way.

Lynn het ‘n groot liefde vir kook en is ‘n ervare sjef en onderwyser en sy en Obie het ook saam ‘n boek Cooking in the photographer’s house uitgegee.
Een van Oberholzer se gunstelingplekke is die Duitse dorpie Luderitz in Namibië waar die Namib en die Atlantiese oseaan ontmoet – “baklei”, soos hy sê.
“Luderitz het gees en avontuur. Dit bring vir my drome deur die mis en die koue.”
Kaartjies vir die Solo Studios-naweek (naweekkaartjie en individuele dae) is beskikbaar by https://solostudios.co.za/tickets/

Happysadland word uitgegee deur HPH Publishers.
Dit word beskryf as ‘n boek oor die geluk en hartseer van Suider-Afrika; ‘n versameling van situasies, insidente, gedagtes en selfhumor – die belaglike, die grillerige, die ernstige en die hartseer, maar ook die hoop.

Leave a Reply

error: Content is protected !!