Joggie debuteer met inspirasiebundel uit tronk
Andre Smith
‘n Storie en bundel van hoop. Só kan Ernest (Mpumelelo) Mnyaka, ‘n petroljoggie van Malmesbury, se aangrypende verhaal beskryf word.
Mnyaka is sedert 2015 werksaam as ‘n petroljoggie by die Engenvulstasie op Malmesbury. Hy is oorspronklik van die Oos-Kaap, maar het hom in die Swartland kom vestig.
Die lewe het ‘n paar draaie met hom geloop. As ‘n rebelse jongman het hy nie ag geslaan op die raad, advies en leiding van sy ouers nie en dit het hom uiteindelik laat kennis maak met die vier hoeke van die gevangenis. Dis hier waar hy tot sy sinne gekom het en besef het dat die tronk nie ‘n plek is waar enige mens homself moet bevind nie.
Dit is ook hier waar hy die tyd gehad het om te begin reflekteer op sy lewe. Dit het hy gedoen deur gedigte te begin skryf. Dié gedigte beskryf sy opregte berou wat hy betoon teenoor sy ouers en mense wat hy leed aangedoen het in sy dae as rebelse jongman. Dit bevat ook intieme lewenslesse wat hy oor die jare geleer het.
Die gedigte is geskryf terwyl hy sy straf uitgedien het – 5 jaar in die gevangenis in die Oos-Kaap en 5 jaar onder parool.
Nou, ná jare, kry sy gedigte lug. Mnyaka sou nooit kon dink dit sou in ‘n bundel saamgestel word nie.
Dié bundel in IsiXhosa, getiteld Waphela Umda kaLova! (vertaal: Die einde van die pad vir ‘n boef), word einde Oktober by die Gemeenskapsportsentrum in Illingelethu bekendgestel.
“Die eerste keer toe ek sy inspirerende kunswerk onder oog gekry het, het ek net geweet dat dit gepubliseer moet word om bewustheid te kweek vir die waardevolle lewenslesse wat daarin opgesluit lê,” vertel uitgewer Dudu Xaba, die stigter en eienaar van Mpande ye Hlumelo Uitgewers in Malmesbury.
Mnyaka skryf alles wat tot op hede met hom gebeur het, toe aan “die plan wat God met sy lewe het”. Hy sien tans sy lewe as ‘n tweede kans wat God hom gee om oor te begin en veral die jeug te inspireer om beter besluite te neem rakende die toekoms.
Ikamva Lam, die eerste en een van sy gunstelinggedigte in sy debuutbundel, praat van sy spyt oor die verkeerde keuses wat hy gemaak het in sy lewe en hoe hy by God pleit om hom te help om nooit weer die pad van misdaad te loop nie.
Sy inkeer en geloof loop soos ‘n goue draad deur die bundel.
Die temas wissel van Vigs (aansteeklike siekte), helde, ydelheid, armoede, vrouemishandeling, lof aan vroue, sy gemis aan sy ma, om nooit hoop te verloor nie, dat die dood geen kleur of status ken nie, die gevare van geld, sosiale euwels, tot vrede en waar hy sy slagoffer om vergifnis vra.
Mnyaka se werkgewer, Gey Kriek, beskryf hom as ‘n sensitiewe mens. “Ernest is só ‘n sagte mens met ‘n positiewe lewensuitkyk. Toe ek van sy storie te hore kom en sy droom om dit deur gedigte in boekvorm te publiseer, kon ek nie anders as om hom hierin te ondersteun nie.”
Mnyaka vertel dat hy deur die skryf van hierdie boek die boodskap aan jongmense wil oordra dat dit nooit te laat is om die regte koers met jou lewe in te slaan nie.
Gebore in Cofimvaba, ongeveer 80km van Queenstown, droom hy dat die bundel in skole en gevangenisse versprei sal word om mense daar te help en te inspireer om die regte keuses te maak.
Hy vertel dat sy ouers hom altyd vermaan het, maar toe hulle in 2003 oorlede is, het hy hom tot die verkeerde dinge gewend. Hy beskryf sy tyd in die gevangenis as hel.
Oor die bundel en die feit dat die gedigte binne in ‘n plastiekomslag ongeskonde gebly het toe sy hok in 2015 in ‘n brand verwoes is, sê hy dit is ‘n “wonderwerk”.
Hy is ook “dankbaar vir die geleentheid wat op ‘n tweede kans.
“Dit is Malmesbury se mense – mense soos Gey Kriek en Dudu Xaba – wat vir my liefde gee. Ek waardeer hulle.”
Waphela Umda kaLova! sal (ook by Engen Malmesbury) beskikbaar wees teen R150.