Agri/BusinessLatest

Swartland skitter by Veritas

Wynmakers uit die Swartland het dié naweek die streek se vlag hoog laat wapper toe die jaarlikse Veritastoekennings bekend gemaak is.
Met ‘n ryke medaljeoes, waaronder 5 Dubbelgoud, het die Swartland weer geskitter.

Die kelders uit die Swartland wat Dubbelgoud verwerf het, is Blake’s Family Wines (Amethyst 2018), Darling Cellars (Gustus Chenin Blanc 2020), Groote Post (Seasalter Sauvignon Blanc 2022), Meerhof (Chenin Blanc/Chardonnay/Roussanne/Grenache Blanc/Verdelho/Viognier 2021) en Pulpit Rock (Brink Family Vineyards Sauvignon Blanc 2022).

Daar was vanjaar altesaam 1312 aanspraakmakers op medaljes in dié gesaghebbende kompetisie waar 70 plaaslike spesialiste oor vyf dae die beoordeling in al die kategorieë behartig het.

Die sewe kategorieë wat die meeste inskrywings ontvang het, is: Rooi versnitte (184), Sauvignon Blanc (137), Shiraz (116), Cabernet Sauvignon (104), Chenin Blanc (95), Chardonnay (90) en Pinotage (90).
Altesaam 21 brandewyne is ook in drie kategorieë ingeskryf.

Só lyk die streek se medaljeoes.

Daar is vanjaar ‘n totaal van 1 177 medaljes toegeken – 103 Dubbelgoud, 136 Goud, 218 Uitstaande silwer, 515 Silwer en 205 Bons.
Die top-kategorieë in die Dubbelgoud-medaljeoes vir wyn was Sauvignon Blanc-inskrywings met die meeste Dubbelgoudtoekennings (12), gevolg deur Rooi versnitte (9), Cap Classique en Chenin Blanc (8) en Chardonnay en Museum Witwyn (6).
Onder die Goue medaljes was Rooi versnitte (22) heel bo, gevolg deur Sauvignon Blanc (17), Shiraz (11) en Pinotage en Wit versnitte (7).

Wyne word blind geproe. Die beoordelaarspanele bestaan uit sewe beoordelaars en groepe van 10 wyne word op ‘n slag beoordeel en bespreek.
Punte word toegeken volgens die internasionale 20-punt-skaal.
‘n Wyn wat meer as 17 uit 20 kry, sal ‘n Dubbelgoud kry, mits die paneel konsensus oor so ‘n toekenning bereik.
’n Wyn wat 17 punte behaal, kry Goud.

Christo Pienaar van Veritas saam met Van der Bijl Blake van Blake Family Wines. Foto: Veritas
Christo Pienaar van Veritas saam met Anthony Meduna, Pieter-Niel Rossouw en Bertrum Titus van Darling Cellars. Foto: Veritas
Christo Pienaar van Veritas saam met Peter Pentz van Groote Post. Foto: Veritas
Christo Pienaar van Veritas saam met Jaco Brand van Meerhof Wines. Foto: Veritas
Christo Pienaar (naaslinks) van Veritas saam met Haumann Brink, Hermias Hugo en Dewald Huisamen van Pulpit Rock. Foto: Veritas

Leave a Reply

error: Content is protected !!