Klip in die Bos
Is dit nog lekker om in die Swartland te woon?
Hardop Dink
Speakers’ Corner is die bekende naam vir ‘n plek waar openbare redevoering, debat en bespreking in die buitelug toegelaat word. Die oorspronklike en bekendste is seker die noordoostelike hoek van Hyde Park in Londen, Engeland.
Al sou ‘n mens kon dink met sosiale media, waar haas elke hoek en laagte en hoogte ‘n Speakers’ Corner geword het, sal hierdie tradisionele Speakers’ Corners verdwyn, is dit nie die geval nie. Toesprake, debat en diskoers in persoon vind steeds daar plaas.
Nietemin.
Terug op eie bodem. Ons woon hier in die Swartland, seker een van die wonderlikste streke in ons land om te woon. Die lug is skoon, die omgewing uitsonderlik mooi – seisoen vir seisoen, ons mense lewe in relatiewe harmonie saam (of doen ons?), ons gee om vir mekaar (of doen ons?) onderwys is op ‘n goeie standaard (of is dit?), dienste en die plaaslike owerheid is goed (of is dit?), dit gaan relatief goed met almal (of doen dit?)…
‘n Mens moet beslis wonder of dit nog so lekker is om in die Swartland te woon as 10 jaar gelede.
Raak dit slegter (wat ook al die maatstaf)?
Dalk is dit persepsie, maar dan voel dit ten minste so:
Dat dit onveiliger geraak het.
Dat die sosio-ekonomiese (maatskaplike) uitdagings groter geraak het.
Dat die instandhouding van infrastruktuur en die skoonhou van ons dorpsgebiede ‘n bietjie agteruitgegaan het.
Dat daar nie genoeg gedoen word om dit als mooi bymekaar te hou nie. Dat daar eenvoudig nie genoeg hulpmiddele is om ‘n mate van stadige verval te keer nie.
Ja (en dit moet met die hoogste lof besing word) daar is mense en instansies/instellings wat probeer om die verval te help keer.
Motiewe is ‘n onderwerp op sy eie en ‘n gesprek vir ‘n ander keer. En dan, natuurlik, is dit maklik om mooi te maak, maar om mooi te hou, kos baie meer.
Net soos ‘n pleister. Dit maak net die prentjie gesond, maar nie die dieper seer nie.
Dit beteken nie ‘n pleister is ‘n onding nie. Dit beteken net: moenie van die seer vergeet nie.
Een van die beste voorbeelde van lede van ‘n gemeenskap wat verval probeer omkeer en dit verdien inderdaad groot lof, is diegene wat pas die Malmesbury Poskantoor weer mooi gemaak het. Die Sakekamer, landbou en ander rolspelers.
Maar dit is hartseer om die harde werklikheid van die situasie in ‘n klompie fasette daarvan oop te breek.
Eerstens is dit lankal ‘n kwade dag dat die eienaar (eintlik maar die regering), nie na hul (ons) geboue omsien nie. Basiese onderhoud daarop doen nie. Dié geskiedkundige gebou was eintlik in ‘n haglike toestand. En so is talle sulke staatsgeboue in ons streek. Ook stasiesgeboue.
Verder is daar die realiteit van hawelose mense. ‘n Bitter groot vraagstuk van ons tyd. Mense wat weens ‘n uiteenlopende klomp redes op straat is en eintlik ‘n tipe subgemeenskap geword het. Ook deur baie (en dikwels met erg logiese redenasies met koue feite) geëtiketteer word as moeilikheidmakers, morsers wat nie wil werk nie en wat weggewens word.
Mense wat net eenvoudig as slegte mense uitgemaak word.
Die harde werklikheid is dat elke mens ‘n storie het en ‘n gister en lewe en keuses maak vanuit niks anders as hul verwysingsraamwerk nie.
Jou jy is juis jou jy weens jou gister. En so is hul hul juis hul hul weens hul gister.
Die punt is, wegwens werk al vir baie dekades nie. En (só lyk dit in elk geval) die getalle van mense en kinders op straat neem toe.
Verwilder is beslis een manier om met dié mense om te gaan, maar of dit die regte manier is, is ‘n ope vraag. Want dit gaan dié mense nie minder maak nie. Dit gaan hul na alle waarskynlikheid net laat skuif. As die pyp eers só bros geraak het, sal jy al die gate nooit kan toehou nie.
Wonderlik dus om die poskantoorperseel mooi en veilig te maak, maar wie kyk na die maatskaplike realiteite?
Voorts is die pragtige gebou nou ontsier met tralies. Of daar binne ons werklikheid ‘n keuse was, is sekerlik te betwyfel, maar dit bly hartseer.
Die posbusse is ook afgekamp.
En al is beide waarskynlik weens die teistering en/of mors deur hierdie mense, herinner dit aan die onveiligheid in onveilige areas waar polisiestasies en kerke en haas elke gebou agter tralies gesluit moet word. En ons het gedink dit is net in die stede of die minder goeie areas.
Is dit nie jammer dat ons nou ook hier, by daardie punt moes kom nie?