Entertainment

Rata se 3de teaterseisoen skop af

Dit is weer tyd vir die uitvoerende kunste by die Royal Arts Town-amfiteater (Rata) op Riebeek-Kasteel wat pas sy derde somerseisoen bekendgestel het.
Op die spyskaart by dié bekroonde teater is daar weer musiek, drama, ‘n kinderfees-vertoning en nuwe werke geskep deur die For Life-sentrum (op Riebeek-Wes), waaronder Rata nou val. Bespreek nou jou kaartjies vir die eerste vier vertonings voor Kersfees by 082 851 1262 of 082 570 3083.

Die nuwe seisoen skop aanstaande Sondag af met Derek & Guy in Riebeek.
Derek Gripper en Guy Buttery is nie onbekend in die vallei nie en hulle is terug vir ‘n someraandkonsert . Hulle is jarelange vriende en beide internasionaal bekend en voorlopers in die plaaslike musiekwêreld van die akoestiese kitaar en ander instrumente. Hulle het ook saam ‘n album “Live in Cape Town” uitgereik. Dié SAMA-genomineerde album word beskryf as ‘n smeltkroes van hul musiek met Suid-Afrikaanse en Oosterse invloede.

Derek & Guy in Riebeek
| Sondag 13 November | 19:00
R200


Op 19 November is dit tyd vir die met gewilde plaaslike musikante en kunstenaars wat optree ten bate van die Impendulo-jeugontwikkelingsinisiatief.
Die program sluit optredes in deur die Valley All Stars, Ensemble Tropicale, Willson and the Echoes, Caro 3rd Grey, Azurdee, Valley Roses, Impendulo Dancers, Donker Jonker en Jorik vir dié skemerkonsert van musiek, dans en meer.
Impendulo is ‘n jeugontwikkelingsinisiatief wat poog om ‘n antwoord te gee op die probleem van jongmense wat in antisosiale gedrag verval deur ‘n gebrek aan motivering, geleentheid en aktiwiteit. Hul talentvertonings en sportbyeenkomste in New Rest Valley, die nuwe uitbreiding van Esterhof, verskaf aan die jeug prettige en betekenisvolle tydverdrywe.

Impendulo Liefdadigheidkonsert
| Saterdag 19 November | 18:00
R200

Die kinderteaterproduksie How to Hold the World volg op 2 Desember.
Dié produksie is deel van RATA se “Send a child to the Theatre”-program. Weldoeners kan vir plaaslike kinders ’n Kersgeskenk van teater gee deur ’n kaartjie te borg om die vertoning by te woon, gevolg deur die amptelike jaarlikse aansteek van die Kersboom op die dorpsplein waar Kersvader lekkernye gaan uitdeel.
Die vertoning behels ‘n jong seun wat die taak het om ‘die wêreld te hou’, terwyl hy voor die skrikwekkende vooruitsig staan om groot te word. Hy leer dat om alleen te wees nie beteken om sterk te wees nie; om gehelp te word beteken nie om selfsugtig te wees nie en dat dapperheid gaan oor om oop te wees vir verbeelding en vriendskap.

How to Hold the World
| Vrydag 2 Desember | 19:00
R70

Die vierde produksie wat ook die eerste deel van die seisoen afsluit, is Doep Is Nie Dood Nie.
Die gewilde sanger en komponis Jannie du Toit het meer as 15 albums opgeneem, sy jongste getiteld Vintage 2018 met sy eie liedjies, asook werke van ander plaaslike en internasionale kunstenaars. In 2021 het Jannie 50 jaar in die musiekbedryf gevier.
Doep is Nie Dood Nie is ’n refleksie op Jannie se jarelange diep vriendskap met wyle Koos du Plessis en bevat van die formidabele versameling liedjies en ander tekste deur die kunstenaar wat deur baie as “die Bob Dylan van Afrikaanse musiek” beskou word. Koos is meer as dertig jaar gelede tragies op ‘n relatief jong ouderdom oorlede.

Doep Is Nie Dood Nie
| Saterdag 17 Desember | 20:00
R150


Royal Arts Town Amphitheatre Somer 2022/23
Royal Hotel, Hoofstraat 33, Riebeek-Kasteel
Vir meer inligting: 082 851 1262/artoflifecentre@gmail.com
Bespreek kaartjies: Skakel/WhatsApp 082 851 1262 of 082 570 3083

Leave a Reply

error: Content is protected !!