WDM streef na veiliger gemeenskap
Persverklaring
Personeel van die Weskus Distriksmunisipaliteit (WDM) se Rampbestuursentrum het die Provinsiale Verkeer en ander rolspelers ondersteun tydens ‘n geïntegreerde padblokkade buite Moorreesburg.
Die padblokkade was deel van die Vervoermaandveldtog in Oktober. Die LUR vir Vervoer en Openbare Werke, Daylin Mitchell, sowel as die Uitvoerende Burgemeester van Swartland Munisipaliteit, Raadsheer Harold Cleophas, was teenwoordig en het veiligheidswenke met motoriste gedeel.
Hierdie programme is deel van die distriksmunisipaliteit se Gemeenskapsveiligheidsplan wat poog om veiliger gemeenskappe in die Weskus te skep.
Volgens Franquin Petersen, Bestuurder vir Rampbestuur by die WDM, is dit een van vele bewusmakingaksies wat vanjaar plaasgevind het.
“Ons wil graag ‘n veiliger omgewing vir gemeenskappe skep en ons sien die publiek as een van die grootste vennote in hierdie verband. As deel van die rampbestuursplan poog ons om ‘n risikobeperkingskultuur in die Weskus te skep. As ons almal saamwerk, kan ons beslis ons doel bereik om meer volhoubare gemeenskappe te skep,” het Petersen gesê. – (persverklaring)