Jong meestersfisikus (19) pak nou sy doktoraal
Die tasse is gepak. Die volgende fase op sy reis.
“Ek is baie opgewonde,” sê die jong fisikus van Riebeek-Kasteel wat Woensdag op sy 20ste verjaarsdag na Duitsland vertrek om te begin met sy doktorsgraad.
Hjalmar Rall se oë lewe skielik ‘n bietjie meer as jy hom pols oor wat hy gaan doen.
Dit is asof hy eintlik maar op ‘n ontdekkingstog is. “Ek gaan nou weer doen waarvan ek hou.”
Nog net 19 en met ‘n meestersgraad in kwantumnetwerkkodering in die sak, probeer Rall by die kombuistafel in sy ouerhuis dié gekompliseerde wiskunde/wetenskap-veld waarin hy werksaam is, in eenvoudige taal verduidelik.
“Die wonder van kwantumrekenaars is dat twee wat met mekaar verbind is, net soveel meer kan doen as die twee rekenaars apart.
“Die kwantumrekenaars is baie kompleks, maar ons kan dit beheer. En dan kan ons dit benut om somme op ‘n ander vlak te doen. “Deur die wiskunde van die fisika te verstaan, kan ons die natuurwette kry om vir ons die berekening uit te voer.”
Hy sê dit behels grotendeels lineêre algebra. Dit gaan ook oor spoed en die feit dat berekeninge só eksponensieel vinniger gedoen kan word in verskeie velde waaronder die finansiële, chemiese en farmaseutiese sektore.
Al sal Rall eers ná sy aankoms in Duitsland met sy promotor en ander gesels om na gelang van behoefte te bepaal wat die onderwerp van sy doktorale proefskrif gaan wees, is dit als in die veld van kwantuminligtingsteorie.
Hy het pas sy meestersgraad in 18 maande aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi en dít ook – soos met sy BSc en Honneurs- met onderskeiding.
Vir dié belangrike, maar relatief nuwe vakgebied wat tans internasionaal hoë prioriteit geniet, is die vaktaal en terminologie in Afrikaans maar nog beperk.
Vir elke sodanige tesis wat op Stellenbosch voltooi word, moet die student ook ‘n vertaalde Afrikaanse opsomming insluit. Rall vertel dat jy dan soms, veral met ‘n relatief nuwe vakgebied, nuwe vakwoorde moet skep. Een so ‘n neologisme is die “spontane parametriese fluoresensie” wat hy moes skep.
Hy stap op 20 hierdie komende week as ‘n besonder jong doktorale student by die Tegniese Universiteit van Munich (Technische Universität München) in.
Dit is eintlik geleë in die universiteitsdorpie Garching naby aan Munich. Daar sal hy by die kwantumfisikagroep van die wiskundedepartement werksaam wees vir die volgende drie jaar. Die semester het eintlik reeds twee weke gelede begin, maar weens administratiewe uitdagings sal hy ‘n bietjie laat aansluit.
As oudleerder van Laerskool Riebeek-Kasteel en CPM op Malmesbury, het hy vroeg reeds met tuisskoolonderrig onder die Cambridge-kurrikulum begin.
Hy het sy skoolopleiding voltooi voor hy ‘n klompie jare gelede as 14-jarige tot die Universiteit van Pretoria toegelaat is. Hier het hy sy BSc- en Honneursgrade met lof geslaag en verlede jaar onder prof. Mark Tame by die Universiteit Stellenbosch ingeskryf vir sy meestersgraad.
Nou gaan hy as ‘n genoot op ‘n spesiale nuwe navorsingsbeurs (fellowship) in die nuwe Munich Quantum Valley (MQV).
As als volgens plan verloop sal dié jong Swartlander dan op 22 sy doktorsgraad (PhD) ontvang.
Hy het vroeër aan dié courant gesê hy sal moontlik daarna in die akademie bly omdat hy op dié manier straks die grootste bydrae tot die relatief nuwe veld kan lewer.
Die promotor vir sy doktoraal aan die Tegniese Universiteit van Munich is die hoof van die Leerstoel vir Wiskundige Fisika, prof. Michael Wolf, wat ook voorheen aan onder andere die Niels Bohr-instituut, Universiteit van Kopenhagen, Universidad Complutense in Madrid en die Max-Planck-instituut vir Kwantumoptika verbonde was.