FEATUREDGeneral

Waterpypleidings oor lang afstande

Daar bestaan reeds vir baie jare baie lang waterpypleidings in die wêreld. Een van die langste is dié in Australië tussen Perth en Kalgoorlie. Dit strek oor 560 km en is al in 1903 teen ‘n koste van 2,5 miljoen pond in gebruik geneem.

Vir Afrika word daar die nie-winsgewende Trans-Afrika-pypleiding van 8 800km oor die volle breedte van Afrika beplan.
Die plan is dat dit tot 800 000 kiloliter ontsoute water per dag sal pomp. Die idee is dat die water in beide rigtings vervoer kan word, juis om voorsiening te maak as daar ‘n probleem op die lyn of by een van die aanlegte ontstaan.

Die kosteberaming van R400 miljard sluit die pypleiding, pompstasies, sonkragaanlegte vir die pompstasies, 10 reservoirs en die ontsoutingsaanlegte op die ooskus (Djiboeti) en die weskus (Mauritanië) in.
Dié grootste varswaterstelsel in die wêreld sal volgens planne dan vir 28 miljoen mense van 12 lande insluitende Burkina Faso, Mali, Tsjad en Nigerië drinkwater kan voorsien asook water vir besproeiing.

Die Verenigde Nasies raam dat mense ongeveer 3,5 liter drinkwater per dag benodig, maar as sanitasie en algemene gebruik ingesluit word, is die syfer nader aan 30 tot 50 liter.
Opnames in die VSA het getoon dat die gemiddelde waterverbruik per persoon daar tot 375 liter per dag kan wees.

*Die afstand vir ‘n waterpypleiding vanaf die Oranjerivier na die Voëlvleidam is ongeveer 500km.

Leave a Reply

error: Content is protected !!