EntertainmentNeffens die Voorblad

Meesters deel hul kennis oor fotografie/kuns

Johan Viljoen
Op ‘n klein dorpie in die Wes-Kaap loop paaie in en uit.
Soos op talle ander.
Teerpaaie. Stofpaaie.
Paaie van saamwees. Paaie van diversiteit.
Paaie van weet en Paaie van wonder.
Paaie van kennis en Paaie van glo.
Paaie van landbou.
Paaie van politiek.
Paaie van die hede en Paaie van die verlede.
Paaie van kos en olyf. Paaie van wyn.
Paaie van kuns en kultuur.
Paaie van gender en Paaie van geloof.
Hierdie dorpie is een, maar eintlik twee.
Sibbe in een vallei. Eenders maar anders.

Die kuns en die kultuur hier voed ‘n deel van ‘n mens se wees, as jy wil.
Wat ‘n voorreg om van die land se heel bestes hier in konsentraat te beleef.
Hierdie naweek was geen uitsondering nie.
Dit was fotografie se beurt.

Twee plaaslike meesters uit die Riebeekvallei het op ‘n inisiatief gereageer en hul ensiklopediese kennis en ondervinding met werkwinkelgangers gedeel.
‘n Aansteeklike naweek wat mense weggestuur het met ‘n soveel groter visie en passie om die waarde van die kamera, die konsep, die proses, interaksie met die wêreld, die uitdrukking, die blootstelling EN die blootstelling, die afdruk en dan ook die kyker, opnuut te besef en daarmee te werk.
Emma Willemse is ‘n deurwinterde en bekroonde kunstenaar en kunsopvoeder, onder andere op die gebied van konseptualisering en ook fotografie.
Haar aanbieding het die belangrikheid van fotografie as ‘n taal – ‘n visuele taal teenoor die gewone gesproke taal – uitgelig en die feit dat dit, anders as ‘n gesproke taal, universeel is.

Antenie Carstens stel Emma Willemse (regs) voor. Links is twee van die gaste Peter en Mari Dewar.

Sy het ook gepraat oor kunstenaars wat as’t ware eintlik nooit hul bestemmings bereik nie (“an artist never arrives”), maar altyd dieper en dieper moet delf.
Dat ook ‘n fotograaf nooit moet ophou skep nie – nooit moet ophou foto’s neem nie.
Dat ‘n fotograaf moet ingelig wees. Nie net oor die onderwerp wat gekies is nie, maar ook oor hoe dit in die verlede deur ander kunstenaars/fotograwe benader en uitgevoer is. Wat jy kan doen om dit op ‘n unieke manier te benader.
Willemse het ook gesê ‘n mens moet onthou dat die kunswerk deur die kyker voltooi word.
Ook dat jy met wenke (elemente) in jou werk en titels en moontlike kort beskrywings die kyker kan lei in die rigting van jou bedoeling, sonder om ooit als op ‘n silwer skinkbord weg te gee.

Stephen Burgstahler in gesprek met Emma Willemse.

Die ander aanbieder was William Walker, mede-eienaar van die drukstudio en gallery, Pictorex.
Walker se diepe tegniese kennis van kleur en drukwerk en die komponente wat nodig is vir ‘n goeie afdruk en sy passie vir foto-afdrukwerk het gaste opnuut beïndruk.
Hy het die proses van die neem van die foto (altyd in die grootste moontlike formaat en verkieslik ook in “RAW” eerder as “Jpeg”) totdat dit op die gepaste papier gedruk word, toegelig. Ook dat foto’s verkieslik in die “ProPhoto”-kleurformaat geneem moet word om die maksimumgehalte te kry. In die ander kleurformate gaan heelwat data verlore en verswak dit die eindproduk.

Walker se werskwyse is in ‘n groot mate geïnspireer deur baanbrekers in die ontwikkeling van digitale drukwerk soos Mac Holbert en Jon Cone.
“Die werklike toneel bevat altyd baie meer inligting as wat ons kan reproduseer in enige media. As fotograwe is ons taak om die toneel te interpreteer vir die afdruk.

William Walker gesels oor die proses van die kamera tot die papier.

“Ons moet besluit wat om te hou en wat om weg te gooi. Die fotografiese afdruk het gewis beperkinge. Om vir daardie beperkinge op te maak, moet ons dele van die werk uitlig en ander weer onderbeklemtoon om ‘n afdruk te skep wat ons oorspronklike ervaring en bedoeling weergee.”
Hy het ook die waarde van ‘n afdruk met ‘n lewensduur van etlike dekades vergelyk met die lewensduur van ‘n digitale foto iewers op die net wat al korter word en nou reeds slegs ‘n paar sekondes is.
Walker het fotograwe aangemoedig om meer van hul foto’s te druk, al is dit nie altyd groot afdrukke nie.
Die naweek se werkwinkel is aangebied onder die vaandel van Stephen Burgstahler en Antenie Carstens se Exposure-Self-werkwinkels.

Die werkwinkel is by Hoofstraat Conceptual aangebied.

Leave a Reply

error: Content is protected !!