Resepte-Recipes

Só bak jy heerlike Paasbolletjies – sjef Koen

Met Paasnaweek wat voorlê en paasbolletjies wat tradisioneel met dié naweek baie gewild is, het dié courant by Rossouw Koen van Aardvark Eats gaan aanklop vir ‘n heerlike resep.
Wat is dan heerliker as ‘n warm paasbolletjie met botter en …?

Dié boorling van die Swartland het al van skooldae af ‘n passie vir die kombuis waar hy gereeld gaste by sy ouerhuis in styl onthaal het.
Hy het aan die Hoërskool Swartland op Malmesbury gematrikuleer en toe by die International Hotel School gaan studeer in kulinêre kuns en ook gespesialiseer in verskillende vorme van gebak. Gebak is nou een van Koen se gunstelinge en spesialiteite.

Hy bedryf deesdae saam met ‘n vennoot, Armand Bruwer, die gewilde restaurant Aardvark Eats op Riebeek-Kasteel. Hul besit ook Koffie op Malmesbury en het ook ‘n bakkombuis.
Hy sê hy het die paasbolletjieresep spesiaal omgewerk na koppies omdat baie mense in die streek nog van dié mates hou.
Hier is die baasbakker se heerlike paasbolletjie-resep wat hy graag deel.

Die resep maak 18 paasbolletjies.
Bestanddele:
1Kg (7½ Koppies) witbroodmeel (Swartland Steengemaalde meel werk vir my)
3 Teelepels sout
¾ Koppie suiker
2 Koppies melk
3 Teelepels kitsgis
1 Koppie rosyne
2 Eiers
½ Koppie olie
1 Eetlepel fyn kaneel
1 Eetlepel fyn gemmer
1 Eetlepel fyn gemengde speserye
Gerasperde skil van 1 lemoen (opsioneel)
Vir die kruis:
1 Koppie meel
¾ Koppie water
1 Mespunt bakpoeier
Glasuursel:
2 Eetlepels appelkooskonfyt
2 Eetlepels kookwater

Metode:
Bolletjies:
• Week die rosyne in ‘n koppie warm water vir 1 uur.
• Verhit jou melk tot net bo kamertemperatuur (lou tempratuur). Los die kitsgis en 1 teelepel van die suiker op. Laat staan vir 10 minute. (Wees versigtig, as die melk te warm is kan jou gis dood gaan.)
• Meng die lemoenskiI en die droë bestanddele saam (insluitend die res van die suiker).
• Meng die olie, eiers en gis mengsel saam.
• Begin die deeg deur die droë en nat mengsels saam te roer. Jy kan nou jou rosyne se water afgooi en die rosyne ook inmeng. Hou die water eenkant indien jou deeg te droog is.
• Knie die deeg vir ±10 minute. Dit moet sag en elasties wees. (Moenie bang wees as dit taai voel nie. Dit beteken jy moet nog knie.) Indien die deeg te droog lyk voeg ʼn eetlepel van die rosynewater op ʼn slag by tot ʼn elastiese deeg vorm.
• Plaas die deeg in ‘n gesmeerde bak met ‘n klam doek oor en laat rys vir ongeveer 1 uur.
• Verdeel in 18 gelyke bolletjies. Vorm en pak teen mekaar in ‘n gesmeerde oondbak of pan. (Pak dit lekker styf dan rys dit mooi hoog.)
• Voorverhit die oond tot 180°C
• Maak toe met ʼn klam doek en los vir 30 tot 45 minute om te rys tot dubbel in grootte.

Vir die kruis:
• Meng 1 koppie meel, ʼn ¾ koppie water en ‘n mespunt bakpoeier tot glad.
• Vorm ʼn spuitbuis deur die punt van ʼn sakkie af te sny. Vul die sakkie met die mengsel en spuit die kruispatroon op die bolletjies.

Bak teen 180°C vir 30 tot 40 min of tot goudbruin.
.
Glasuursel:
• Vir ʼn mooi glans los appelkooskonfyt op in kookwater en verf die bolletjies goed net na dit uit die oond kom.

Leave a Reply

error: Content is protected !!