Nat lande onbegaanbaar; grondsuurstof laag
Die hoë reënvalsyfers tot dusver vanjaar en veral die laaste 10 dae het nie net elders in die provinsie nie, maar ook in die Swartland ‘n wesenlike invloed op landboubedrywighede tot gevolg gehad.
Samie Laubscher van die Langgewens-navorsingsplaas tussen Malmesbury en Moorreesburg sê die lande is tans te nat vir die boere om kunsmis of gifstowwe te spuit. Die enigste alternatief is lugbesluiting, vir diegene wat dit wel gebruik.
Oor die aanwend van hommeltuie vir dié doel, sê Laubscher dit is nie werklik prakties haalbaar as jy ‘n paar honderd hektaar moet bespuit nie.
Op Langgewens het hulle al heelwat meer reën gemeet as verlede jaar. Laubscher sê die totale reënvalsyfer vir die hele 2022 was 270mm. Hulle het in Mei verlede jaar 20mm gemeet en toe eers in Junie behoorlike reëns gekry met ‘n totaal van 81mm vir die maand.
Vanjaar was daar reeds in Maart 70mm, in April 51mm, Mei 62mm en tot dusver in Junie al 134,5mm.
Laubscher sê die gronde is tans so versadig dat die suurstofvlakke in die grond ook baie laag is. Dit kan beslis die koringplantjies nadelig beïnvloed, maar, voeg hy by, as ons nou ‘n week of twee goeie sonskynweer kry, kan dit als weer herstel.
Hy sê die vroeë reën het gemaak dat ontkieming aansienlik vroeër as verlede jaar kon plaasvind en is die gesaaides ‘n maand of meer voor verlede jaar.
Op Nuweland, wes van Malmesbury, vertel Ewan Louw was die neerslag tot vanoggend voor vandag se reën, slegs 29mm kort op die totale reënvalsyfer vir 2022.
Louw het in 2022 ‘n totaal van 369mm op die plaas aangeteken en die syfer vir 2023 het vanoggend op 340mm gestaan.
Die total reënval op Nuweland vir elk van die vorige paar jaar was 428mm in 2018; 342mm in 2019; 457mm in 2020 en 514mm in 2021.
Sy maandsyfers vir 2022 was: Maart (14mm), April (4mm), Mei (19mm) en Junie (100mm).
Die syfers vir vanjaar lyk só: Maart (57mm), April (59mm), Mei (75mm) en Junie tot vanoggend 19 Junie (143mm).