Voëlvlei styg 17 punte in 14 dae
Ná wydverspreide reën en oorstromings die afgelope week, staan die vlak van die Voëlvleidam vanoggend op 64,05%.
Dit is bykans 17 punte hoër as twee weke gelede toe die vlak op 47,09% was.
Volgens die jongste beskikbare syfers is dié dam, die grootste drinkwaterbron in die Weskus-gebied, se vlak steeds die laagste van al die groot damme in die Stad Kaapstad se voorsieningstelsel.
Die grootste dam, Theewaterskloof, se inhoud het in die afgelope week met bykans 20% gestyg tot 95%. Die vlak was twee weke gelede nog op 67%.
Die totale waterinhoud van dié dam is tans dus op 455 000 megaliter.
Die Voëlvleidam is Stad Kaapstad se tweede grootste dam gevolg deur die Bergrivierdam.
Op 64% vanoggend is die Voëlvleidam se inhoud tans 101 000 megaliter.
Die Bergrivierdam was vanoggend op die huidige vlak van 102,59% op 130 000 megaliter.
*dié courant het op 20 Junie 2016 berig dat die vlak van die Voëlvleidam in een week met 4,4% gestyg het tot 24% – Dit is 40 punte laer as die huidige vlak.