Omstrede muur by ou Riebeek-kerksaal gevel?
Nadat inwoners en naburige grondeienaars te velde getrek het teen ‘n hoë nuwe muur op die straatfront, is die ontwikkeling van die ou NG-kerksaal op die restant van erf 361 op Riebeek-Kasteel in sy spore gestuit.
dié courant het in Mei vanjaar berig dat talle inwoners van dié dorp ‘n petisie onderteken het nadat ‘n hoë muur van meer as 3 meter op die straatfront van Skoolstraat verrys het.
Die ontwikkelaar, Mark Tame van Kasteelberg Lifestyle Village, het vroeër in reaksie op die besware in ‘n brief aan die munisipaliteit gesê: “Die huidige onooglike gebou, wat met probleme rondom rondlopers gepaardgaan, sal omskep word in ‘n veilige aftree-ontwikkeling met ‘n lae digtheid, waarvoor daar ‘n dringende behoefte bestaan.”

Die ontwikkelingsplanne behels twee rye woonstelle van vier elk.
Van die betrokkenes by die nuwe ontwikkeling het van die beswaarde ondertekenaars gekontak en versoek om hul besware terug te trek.
Die planne wat deur die Swartland Munisipaliteit (SM) goedgekeur was, het die bou van agt motorhuise vir die agt aftreewoonstelle ingesluit. Die hoë muur sou as die kopmuur vir die motorhuise dien.
Die SM het die planne goedgekeur sonder die nodige verslapping/wysiging van die boulynbeperkinge asook sonder om die ontwikkelaar na Erfenis Wes-Kaap te verwys vir erfenisgoedkeuring.
Die ou kerksaal is ouer as 60 jaar en erfeniswetgewing vereis dat daar dan erfenisgoedkeuring vir ingrypende veranderinge vereis word.
Bouwerk op die perseel, waar ‘n groot deel van die saal wat uit 1959 dateer, reeds gesloop is, is ná die besware gestaak.
Erfenis Wes-Kaap se verteenwoordigende liggaam in die Riebeekvallei, die Riebeekvallei-belastingbetalersvereniging (RVRA), was aanvanklik nie deel van die proses nie, maar is intussen betrek.
Nuwe planne/voorstel vir die ontwikkeling dien nou by Erfenis Wes-Kaap en sluit ‘n wysiging van die ontwikkeling op die straatfront in.

Indien die nuwe planne/voorstel deur Erfenis Wes-Kaap en die Swartland Munisipaliteit goedgekeur word, sal die omstrede hoë muur op die Skoolstraat-grens afgebreek word en met een van geboudepilare en traliewerk vervang word.
Die motorhuise word op die nuwe voorstel omgedraai en ook tot vier verminder met ‘n afdak langs elkeen. Dit grens dan aan die verhoogde tuinplatforms van hul onderskeie wooneenhede.
Op die nuwe plan sal die vier woonstelle aan die agterkant (westekant) elkeen ‘n motorafdak kry met twee wat ook ‘n verdere motorhuis sal hê.
Toe bouwerk deur die owerhede gestaak is, het Kasteelberg Lifestyle Village ‘n nuwe argitek, Nic Border, aangestel om die goedgekeurde ontwerp te hersien.

Die nuwe NID (Kennisgewing van intensie om te ontwikkel) is daarna deur Rennie Scurr Adendorff-argitekte, ‘n groep met ervaring in erfenisadvies, saamgestel vir voorlegging aan Erfenis Wes-Kaap.
Die NID is voorberei in terme van Artikel 38(1) van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne (NHRA) van 1999.
Border sê, luidens die verslag: “Ons opdrag was spesifiek om ‘n alternatiewe oplossing vir motorhuise en parkering te ondersoek ten einde die straataansig langs Skoolstraat te verbeter, asook om die ontwerp van die vooringang te verfyn.”
Hy verwys na die goedgekeurde plan wat “nooit in hierdie vorm goedgekeur moes gewees het nie, en lof kom die belanghebbende en geaffekteerde partye toe vir die feit dat hulle die saak onder die aandag van Erfenis Wes-Kaap gebring het.”
Luidens die NID is die aanvanklike planne vir die herontwikkeling van die eiendom (2 469 m² groot) op 30 Januarie vanjaar deur die Swartland Munisipaliteit goedgekeur.

Die verslag maak ook melding van ‘n erfenisopname in 2009 vir die Swartland. Die kerksaal was toe nog nie 60 jaar oud nie. Al het die eiendom nie in daardie opname, “wat deur Erfenis Wes-Kaap onderskryf, maar nie goedgekeur is nie” nie ‘n spesiale gradering gekry nie, meld die verslag ook dat “die historiese dorp Riebeek-Kasteel voorheen voorgestel is as ‘n erfenisgebied.
“Die dorp huisves ‘n Provinsiale Erfenisterrein (die NG Kerk), vyf voorgestelde Graad 3A-terreine, elf voorgestelde Graad 3B-terreine en 59 voorgestelde Graad 3C-terreine. Die betrokke eiendom val binne die voorgestelde erfenisgebied, maar is nie gegradeer nie.”
Dit lui verder: “Die betrokke terrein regverdig ‘n Graad 3C-gradering vanweë die kontekstuele en assosiatiewe betekenis daarvan.
“Die betrokke eiendom is ‘n onderverdeling van wat oorspronklik as Erf 164 aangewys is. Erf 164 het bestaan uit ander persele wat self onderverdelings was van Isaak Jacobus Coetzer
se toekenning van 1817 onder ewige erfpag (“perpetual quitrent”). Erf 164 is aanvanklik in Maart 1867 deur die Kerkraad van die NG Kerk op Riebeek-Kasteel verkry. Die eiendom maak dus, sedert die ontstaan daarvan, deel uit van die eiendomme van die NG Kerk Riebeek-Kasteel.

“Die struktuur op die perseel is deur W. Bronkhorst ontwerp, in 1959 gebou, en het sedert die oprigting daarvan grootliks onveranderd gebly.”
Met die nuwe voorstel vir die ontwikkeling word die motorhuise langs Skoolstraat (soos voorheen goedgekeur) tesame met die vulliskamer en waskamer wat die 40m-lange en 3m-hoë muur gevorm het, nou geskrap.
“Vir die grens aan Skoolstraat word nou gepleisterde kolomme met dekstene en palisade-invulpanele voorgestel.”
Die aanvanklike plan se voertuigtoegang reg voor die gebou vanuit Piet Retiefstraat is ook nou laat vaar en die nuwe voorstel is dat dié toegang na die westelike hoek verskuif.
“Voor die indiening van hierdie NID het die kliënt verdere kommentaar van die RVRA aangevra om hul reaksie op die gewysigde plan te peil.”
Die RVRA het opgemerk dat “die hersiene veranderinge aan die planne, veral wat betref die hersiene straatfront langs Skoolstraat, ‘n aansienlik verbeterde benadering bied wat beter in pas is met die ontwikkelingsriglyne wat die RVRA tans besig is om op te stel. Ons ondersteun die hersiene straatfront langs Skoolstraat, sowel as die verskuiwing van motorhuise en motorafdakke.”
Die RVRA het verder opgemerk: “Ons is bewus daarvan dat daar ooreenkomste vir die selfoontoring bestaan wat onafhanklik van Percipient (die nuwe eienaar) is, maar dit pas nie by die karakter van die omgewing nie. Ons versoek dus dat die eiendomseienaars hulle daartoe verbind om hierdie toring so gou moontlik te sloop of buite werking te stel.”
