CommunityNews

Tussenverkiesing ná raadslid bedank

Wyk 7 in die Swartland Munisipaliteit sal binnekort ‘n tussenverkiesing hê nadat die pos laat verlede week vakant gelaat is.
Die DA se raadsheer Basil John Stanley (69) het uit die party bedank en oorgeloop na die Alliance of Citizens for Change (ACC). Dié party is ‘n paar maande gelede deur die oud-speaker van die Wes-Kaap, Masizole Mnqasela, gestig nadat die DA vroeër sy lidmaatskap beëindig het.

Omdat Stanley ‘n wyksraadslid was en nie proporsioneel aangewys is nie, moet daar nou binne 90 dae ‘n tussenverkiesing in wyk 7 gehou word.
Hy het die wyk, wat Kalbaskraal, Abbotsdale en ‘n gedeelte van Malmesbury insluit, in 2021 vir die DA gewen toe hy 36,34% van die stemme ontvang het. Daar is tans 4499 geregistreerde kiesers in die wyk.

Die tussenverkiesing vind op 8 November plaas en die registrasienaweek vir kiesers is 16 en 17 September.
Kiesers kan by elk van die 5 stemlokale registreer van 08:00 tot 17:00.
Die vyf stemdistrikte in die wyk is:
97710060 (stemlokaal by OJ Erasmus Primêre Skool, Kalbaskraal – tans 1268 geregistreerde kiesers)
97710116 (stemlokaal by Abbotsdale Gemeenskapsaal – tans 2049 geregistreerde kiesers)
97710149 (stemlokaal by MESS-gebou by Malmesbury Gevangenis – tans 537 geregistreerde kiesers)
97830164 (stemlokaal by Welgemeend Gemeenskapsaal – tans 359 geregistreerde kiesers) en
98430217 (stemlokaal by Môrewag Plaas – tans 286 geregistreerde kiesers).

Die inligting van die kandidate moet op 16 Oktober by die OVK ingedien wees en sal kort daar na bekend wees.
Stanley was ook voorheen die DA se raadslid vir Wyk 4 (wat Riverlands en Chatsworth insluit) asook ‘n raadslid van die Weskus Distriksmunisipaliteit.

Leave a Reply

error: Content is protected !!