Tomis-transaksie kry groen lig
Die mededingingskommissie het aanbeveel dat die mededingingstribunaal die voorgestelde transaksie goedkeur waardeur Pick n Pay beoog om al die bates en die besighede wat aan Tomis behoort, te verkry.
Die kommissie sê in ‘n verklaring Tomis, is ‘n vertikaal geïntegreerde vleisverskaffer naby Wellington in die Wes-Kaap met die volgende aktiwiteite:
• ’n Slagplaas waar vee van Tomis se voerkraal geslag word.
• ‘n Vleisverwerkingsfasiliteit wat lam- en beeskarkasse, vleissnitte en afval van Tomis se abattoir verwerk.
• Vervaardiging van tuinkompos.
Volgens die kommissie is bevind dat die voorgestelde transaksie waarskynlik nie aansienlike voorkoming of vermindering van mededinging in enige relevante markte sal meebring nie.
Om wel enige kommer oor openbare belang aan te spreek, het die partye en die kommissie ingestem tot sekere voorwaardes waaronder ‘n moratorium op samesmeltingsverwante afleggings, kapitaalbeleggings asook die verhoging van verkrygingsbesteding by sekere verskaffers.
dié courant het vroeër berig die Tomis-groep is vanjaar 30 jaar oud. Die naam Tomis is afgelei van die voorname van TOMmie en ISabelle Moolman.
Met die 20ste verjaarsdag het Tommie Moolman (toe besturende direkteur) vertel van die begin – “met ‘n beskeie 4-skaap-per-dag-onderneming”.
Die groep het vandag ongeveer 320 werknemers.
Die huidige besturende direkteur, Laurie Terblanche, het vroeër aan dié courant gesê as die transaksie deurgaan “is dit baie positief vir die gemeenskap met groeiplanne wat beslis meer werksgeleenthede insluit”.
Hy sal by die onderneming aanbly.