Agri/BusinessLatest

Swartland Toerisme, Weskus Kollege span saam vir opleiding

In ‘n samewerkingsaksie tussen Swartland Toerisme en Weskus Kollege het ‘n groep van 75 werkende kelners in die Swartland-streek die afgelope week omvattende opleiding ontvang.
Dié inisiatief het ten doel gehad om die kelners toe te rus vir die komende somerseisoen.

Die uitgebreide eendag-opleidingsprogram het op Riebeek Kasteel, Yzerfontein, Darling, Malmesbury en Moorreesburg plaasgevind.
Dit het aspekte soos kleredragkode, dienstegnieke, tafelrangskikking, etiket, kulinêre en drankterminologie ingesluit om die kursusgangers toe te rus met die kennis, vaardighede en selfvertroue wat nodig is.

Dié vaardigheidsontwikkeling was ‘n waardevolle versterking vir plaaslike ondernemings in die gasvryheidsbedryf. “Ons doel was om die standaarde van professionaliteit en diensvlakke in eetplekke regoor die Swartland te verhoog. Kelners speel ‘n deurslaggewende rol as toerisme-ambassadeurs, veral as in ag geneem word dat baie besoekers dalk nie toerismekantore besoek nie. Ons maak staat op hulle om as gashere vir ons streek op te tree,” beklemtoon Lizelle Carstens, toerismebestuurder van Swartland Toerisme.

Die opleiding het ook aan studente waardevolle netwerkgeleenthede en ‘n platform gebied om verskeie aspekte en ook die belangrikheid van hul rol in die bedryf te bevestig.
Carstens sê Swartland Toerisme beplan om bykomende eendagwerksessies in samewerking met verskeie vennote van stapel te stuur.

Leave a Reply

error: Content is protected !!