LatestNews

Veiliger vakansietyd vir inwoners, besoekers

“Jou veiligheid is ons prioriteit.” Dít is die boodskap wat by die bekendstelling van die Weskus se feesseisoen-veiligheidsplan op Moorreesburg oorgedra is.
Met vennootskappe tussen verskeie wetstoepassingsagentskappe is die doel om hierdie vakansietyd ‘n veiliger omgewing vir plaaslike gemeenskappe en besoekers aan die Weskus te skep.


Die Wes-Kaap se LUR vir polisietoesig en gemeenskapsveiligheid, Reagan Allen, het die belangrikheid daarvan beklemtoon om op te tree teen diegene wat dink hulle is verhewe bo die reg. “Deur saam te werk, kan ons ‘n sterk boodskap uitstuur aan misdadigers en diegene wat die wet wil oortree. Die veiligheid van gemeenskappe kom eerste en diegene wat ander se lewens deur kriminele dade in gevaar wil stel, moet die volle krag van die wet in die gesig staar,” het hy gesê.

Die LUR vir polisietoesig en gemeenskapsveiligheid, Reagan Allen, praat by bekendstelling van die Weskus se feesseisoen-veiligheidsplan.


Die speaker van die Weskus Distriksmunisipaliteit, Kallie Louw, het gesê die munisipaliteit se rampbestuursbeamptes sal in dié tyd verskeie aksies in die plaaslike munisipale gebiede ondersteun. “Ons sal betrokke wees by geïntegreerde misdaadvoorkomingsoperasies, brandbewustheid en ook help met die koördinering van gemeenskapsveiligheidsaktiwiteite vanaf ons rampbestuursentrum op Moorreesburg.”
Generaal-majoor Sizakhele William Dyantyi, distrikskommissaris van die polisie, het bevestig dat meer polisiebeamptes in die Weskusstreek ontplooi sal word. “Ons sal meer stewels op die grond hê wat ons sal help om ons misdaadvoorkomingstrategieë te verbeter. Ons planne is in plek in die Weskus-streek en deur saam te werk, sal ons veiliger gemeenskappe skep,” het hy bygevoeg.


Die streekdirekteur vir provinsiale verkeer, Des Paton, sê voertuigbestuurders wat nie bereid is om by die reëls te hou nie, kan ‘n groot verrassing verwag. “Zero Tolerance. Dit is die boodskap wat ek het. Ons sal niemand toelaat om die lewens van wetsgehoorsame padgebruikers in gevaar te stel nie. Die sterftes op ons paaie sal net verminder as ons die gedrag van ons padgebruikers verander en effektiewe toepassing kan gewis in hierdie verband help,” aldus Paton.
Die Weskus Distriksmunisipaliteit het ‘n nuwe uitgawe van die veiligheids- en sekuriteitsakgids vir wetstoepassingsbeamptes ontwikkel. Dié gids dien as verwysing vir wetstoepassingsbeamptes om hul pligte binne hul verskillende mandate uit te voer.


*Hier is ‘n paar belangrike punte om in gedagte te hou tydens die feestyd:
Geen alkohol op strande nie
Alkoholgebruik op strande word nie toegelaat nie. Dit is om netheid, veiligheid en ‘n gesinsvriendelike omgewing te handhaaf. Besoekers word aangemoedig om die skoonheid van strande verantwoordelik te geniet en om nie alkoholiese drankies in openbare ruimtes te nuttig nie.
Vuurwerkregulasies: Permitte word vereis
Om veiligheidsprotokol te verseker en potensiële gevare te voorkom, is dit belangrik om daarop te let dat die gebruik van vuurwerke sonder ‘n geldige permit/toestemming verbied word.
Padveiligheid
Met meer voertuie op die paaie en ‘n algemene feestelike luim, word padveiligheid belangriker. Alle padgebruikers word aangemoedig om die verkeerswette te gehoorsaam, verantwoordelik te bestuur en veiligheid ‘n prioriteit te maak. Gehoorsaam spoedbeperkings, vermy drink en bestuur, en verseker dat veiligheidsgordels altyd gedra word.
Noodkontaknommers

  • Ramp/Brand: 022 495 0229/ 022 4950 231
  • SAPD: 022 495 0234
  • EMS: 022 433 8700
  • Provinsiale Verkeer: 087 077 0832

(persverklaring)

Leave a Reply

error: Content is protected !!