Nuwe eienaars het planne met Solo Studios
Vanjaar van 9-11 Augustus
Een van die groot hoogtepunte op die Kaapse kunskalender, die Riebeekvallei Solo Studios, het nuwe eienaars en die beplanning is om voortaan meer besoekers na dié kunsnaweek te lok.
dié courant het met Ashley Stone en Antonio Tomazini, eienaars van die Royal 1 Gastehuis op Riebeek-Kasteel gesels oor hul besluit om Solo Studios Intimate Art Encounters te koop.
Stone is ook een van die direkteure van Swartland Toerisme en ook nou betrokke by ‘n projek om die plein op Riebeek-Kasteel te verfraai.
Hulle is self kunsversamelaars en vertel dat hul liefde vir kuns en ‘n besoek aan Solo Studios een jaar eintlik gelei het tot hul besluit om in die vallei te kom woon.
Toe die stigter-eienaar van Solo Studios, Klaus Piprek, besluit om meer aandag aan sy ander sake te gee, het hulle die geleentheid gesien om daarin te belê.
“Ons het van die begin af gesê dat as ons dit wil doen, moet jy dit behoorlik doen en jy moet geld hê om dit te kan doen.”
Hulle het intussen ‘n minderheidsvennoot, die beleggingsmaatskappy Geddes, betrokke gekry.
Die eerste Solo Studios is in 2016 gehou en het sedertdien aansienlik gegroei tot waar daar verlede jaar kunsstukke ter waarde van R2,2 miljoen oor die naweek verkoop is.
Die unieke en eksklusiewe geleentheid om van die vallei se top-kunstenaars in hul ateljees, wat hulle vir die naweek oopgooi, te ontmoet, vorm die kern van Solo Studios.
Vanjaar vid dit weer plaas op die naweek wat saamval met Vrouedag en Stone sê hulle beplan om ook vanjaar ‘n gedeelte van die fokus op die vrou te plaas.
Hy sê hulle wil die kern van die naweek dieselfde hou met dit wat goed gewerk het tot dusver en met tyd ook ekstra aktiwiteite byvoeg. Die idee is om, naas die kunsuitstallings en besoeke aan ateljees deur die dag, ook aan kunsliefhebbers en -versamelaars ‘n groter verskeidenheid in die aande aan te bied. Hulle kyk na musiek en die moontlikheid van ‘n opera-uitvoering en hulle beplan ook gourmet-langtafels waaronder ‘n vegan-langtafel vir vanjaar.
Hy bevestig ook dat die Wynland Filharmoniese orkes weer op die spyskaart is om saam met die Riebeekvallei Steelband in die kerk op te tree.
Daar sal ook weer groepuitstallings wees en, soos verlede jaar, sal samewerkende kunstenaars van elders weer deur plaaslike kunstenaars genooi kan word om saam met hulle uit te stal.
Ook weer miniroetes na al die deelnemende ateljees en galerye en praatjies/lesings oor kuns.
Aansoeke vir kunstenaars om deel te neem, is reeds oop en die inskrywings word beperk.
Die organiseerders van Solo Studios kies ook elke jaar een of meer begunstigde instellings om te ondersteun. Die skenkings van 2023 aan die Riebeekvallei Steelband en die Wynland Filharmoniese orkes word binnekort oorhandig.
Stone sê die verdere gemeenskapsbetrokkenheid deur Gallery 7 on Plein om ook opkomende kunstenaars deel te maak van die naweek, is beslis ook weer deel van hul planne.