Nuwe digtersnaweek skop af met propvol program
Riebeek Valley Poets’ Rally 1-3 Maart
‘n Allegaartjie van uiteenlopende gedigte, werkwinkels, bekroonde digters en nuwelinge, teater en musiek saamgevleg met ‘n Mardi Gras-byeenkoms en ‘n straatpartytjie is op die spyskaart die eerste naweek in Maart wanneer die eerste Riebeek Valley Poets’ Rally oor drie dae plaasvind.
Só vertel projekbestuurder Shawn Hewitt.

Cult of Poets beskryf hul eerste groot jaarlikse naweek as ’n “sosiale, nie-literêre byeenkoms van digters en liefhebbers van die wêreld van woorde. ‘n Viering van die kreatiewe gebruik van taal. ‘n Speelplek van poësie.”
Registrasie en inligting is die Vrydag 1 Maart reeds oop by The Co-op vanaf 12:00 tot 17:00.

Die naweek op Riebeek-Kasteel, “gemik op digters van alle soorte, vlakke en tale, sowel as alle liefhebbers poësie” skop amptelik die Vrydagaand af met skemerkonsert by die Royal Arts Town-amfiteater by die Royal Hotel.
Die konsert (19:00 – 20:15) sluit optredes in van Ensemble Tropicale (orkes), Donker Jonker
en Jorick Pienaar (poësie), Shui-Lyn White en Kensiwe Tshabalala (Kuns/Dans/poësie), Sweet Touch (orkes), Johannesburg Awakening Minds JAM (poësie) en Xabiso Villi (poësie).
Kaartjies (R50) is betaalbaar by die ingang. Bespreek per Whatsapp by 082 851 1261.
Die organiseerders wil “poësie meer toeganklik en genotvol maak en aan digters uit alle vlakke van die samelewing ‘n platform en tuiste bied”.

Saterdag 2 Maart van 10:00 tot 12:00 bied die bekroonde digter Kobus Moolman, ‘n inwoner van die vallei, ‘n poësiewerkwinkel aan in die Royal Hotel se konferensiesaal.
Van 10:00 tot 11:30 is daar ook kinderpoësiewerkwinkel en geleentheid vir gedigte by die Pop-sentrum in Esterhof wat aangebied word deur Dorothy Ann Gould en Lwazi Mayeki van Johannesburg Awakening Minds (JAM)Van 12:00 tot 13:15 bring JAM ook daar in die Pop-sentrum ‘n unieke weergawe van A Midsummer Night’s Dream op die planke.
Om 14:00 kom die bekende motiveringspreker, digter en skrywer Lyn Hill in die Pop-sentrum aan die woord gevolg deur Shui-Lyn White, Christiaan Diedericks en Kensiwe Tshabalala met hul kuns, poësie en dansvertoning Infinity To The Power Of Women om 15:30.
Intussen is daar ook drie Poetry Stars Live + Open Mic-sessies met digters Xabiso Villi, Sindiswa Busuku, Jacques Coetzee en Donker Jonker by die Aardvark-restaurant (van 13:30 tot 14:15), Au Bouchon Rouge (van 14:30 tot 15:15) en The Co-op (15:30 tot 16:15).
Dan sal die digters ook van 17:30-18:30 deelneem aan die vallei se nou reeds jaarlikse Mardi Gras-optog deur Riebeek-Kasteel se strate en om die dorpsplein wat vanjaar op die Saterdagaand aangebied word deur Riebeek Valley Events.
Dit word gevolg deur Riebeek Valley Events se MARDI GRAS PARADE AFTER PARTY (19:00) in Short Street. Daar is wel ‘n toegangsfooi vir dié straatpartytjie. Kaartjies by Riebeek Valley Mardi Gras After Party ‘24 (webtickets.co.za) ten bate van Riebeek Valley Community Projects.

Sondagoggend 3 Maart van 09:30 tot 10:30 bring Shui-Lyn White, Christiaan Diedericks en Kensiwe Tshabalala hul kuns, poësie en dansvertoning Infinity To The Power Of Women na die Royal Hotel se konferensiesaal.
En dan word die naweek afgesluit met ‘n Super Poetry Jam en Open Mic-sessie van 11:00 tot 13:30 by The Co-op in Short Street.Hier sal Donker Jonker (MC), Bradley Arendse (MC), Xabiso Villi, Sindiswa Busuku, Jacques Coetzee, Johannesburg Awakening Minds (JAM) en verskeie ander plaaslike en besoekende digters hul werke lug gee.
Besoekers kan ook uitsien na ander straat- en seepkisoptredes van digters en musikante wat aangemoedig word om oor die naweek in die dorp op te tree.
Daar sal ook ‘n poësiewinkel by The Co-op wees waar gepubliseerde digbundels en gedrukte enkelbladsy-gedigte te koop sal wees.
Hewitt vertel ook van die Poetry Tree in Short Street waar gedigte wat oor die naweek beslag gekry het, opgehang sal word.
Dié naweek word moontlik gemaak deur ‘n toekenning van die Wes-Kaapse departement van Kultuursake en Sport deur die STAND-stigting.
Hou hierdie blad dop vir meer inligting oor die naweek en van die deelnemers.