Buite-ekspo bring weer ‘n groot verskeidenheid
As jy buitelewe geniet, moet jy nie dié naweek misloop nie
Die kykNET Buite-ekspo Wes-Kaap keer van 8 tot 10 Maart terug na Môreson Plaas op die N7 naby Tierfontein
Die organiseerders poog weer, soos altyd, om iets vir almal te bied. Die klem van die Buite-ekspo val op die talle buitelug-uitstallers wat van die nuutste produkte in die 4×4- en buitelugmark ten toon stel. Die veilige landbou-omgewing leen hom ook daartoe dat uitstallings so opgestel word om vir besoekers ‘n realistiese voorsmakie te gee van hoe die produkte in die veld gebruik sal word.
Vanjaar is daar weer eens ‘n verskeidenheid aktiwiteite, waaronder:
Veldavonture aangebied deur Mahindra saam met Maniac 4×4. Hier kan enigeen ‘n gratis rit saam met vaardige bestuurders meemaak om die vermoëns van hierdie voertuie te ontdek.
Gewilde helikopterritte om ‘n hoogteblik oor die Swartland te geniet.
Jimmy’s Sauces se vermaaklike ‘Braai with a Twist’-kompetisie met kykNET-akteurs en Hankook-kunstenaars. Onder die kunstenaars is Rooiwyn Profeet en sy orkes, Soné Joubert, Amore, Blackie Swart, Cheree, David Fourie, Rooies, Desmond Wells, Viljoen Retief, Dewald Dippenaar, Wynand Windpomp, Nic Stevens en Riaan Grobler, wat ook die seremoniemeester sal wees vir die naweek.
Gratis ritte saam met die altydgewilde “Mnr. 4×4”, André de Villiers van André 4×4 en gasheer van 4×4 saam met Andre op kykNET. Moet nie die geleentheid misloop om saam met hom in die Mahindra-voertuie te ry nie.
Natuurlik is daar weer oorgenoeg en ‘n verskeidenheid watertandfeeskos by die kosstalletjies en vloeibare verversings.
Die opsies sluit in bier bedien by die Castle Light-biertuin, wyne in die Swartland Kelders-wyntuin (saam met heerlike kos) en jou gunsteling-drankies.
Vanjaar is daar ook weer ‘n kuns- en snuffelmark met ‘n wye reeks hoëgehalte-leefstylprodukte wat altyd baie gewild is.
Vir die kinders is daar oudergewoonte weer die groot pretpark en Sondagoggend kom vermaak Lollos die kinders met een van hul vertonings.
Daar is weer beperkte kampeerplek ook beskikbaar. Bespreek jou kampeerplek op die terrein by Môreson Plaas per e-pos by admin@moresonmalmesbury.co.za. Toegeruste “glamping”-tente kan bespreek word by admin@you2camp.com. Daar is beperkte staanplekke en dit sal vinnig uitverkoop.
Kaartjies vir dagbesoekers kan by die hekke gekoop word asook vooraf deur TicketPro. Laasgenoemde opsie is gewild omdat dit sake by die hekke vir almal vergemaklik en ook die toegangsrye beperk.
Die dagbesoekerpryse wissel tussen R30 vir kinders to R100 vir volwassenes, afhangende van die dag. Naweekpakette is ook beskikbaar.
Besoek gerus die webwerf by www.ekspo.co.za en stuur e-pos na Tersia by accounts@ekspo.co.za vir enige navrae.