‘Talle begaafde kinders glo nie in hulself’
Hy het met sy eerste sessie die afgelope naweek opnuut besef dat begaafde kinders dikwels nie dink of glo dat hulle begaafd is nie.
Dieselfde geld baie keer vir hulle ouers en dit is belangrik om dit ook by die ouers tuis te bring sodat hulle kan planne beraam om die kinders se potensiaal te ontwikkel.
Só vertel Heinrich Rall van Riebeek-Kasteel nadat hy en sy vrou, Annette, dié naweek kinders uit die streek met wiskunde, programmering en kuns gestimuleer het.
Hulle wil mettertyd ‘n sentrum vir begaafde kinders op die been bring.
Die doel van die sessies elke naweek is juis om hulle ‘n wye blootstelling te gee en te prikkel sodat hulle self hulle belangstelling(s) kan water gee en nie ophou om vrae te vra nie.
Rall sê hul wil onder meer by kinders ‘n liefde kweek vir wiskunde en fisika (deur programmering/”coding” en robotika).
Die beplanning is ook om verskeie kenners op verskillende vakgebiede te gebruik om die kinders die nodige blootstelling te gee.
Dit sluit ook kuns in, omdat kuns die kinders se manier en vermoë om anders na die wêreld te kyk, help ontwikkel.
Kontak Rall gerus by vir meer inligting oor die sessies by 082 920 4875.
Daar is ook die geleentheid vir ouers om teen ‘n meer bekostigbare tarief hul kinders te laat evalueer by die sielkundige Riana de Villiers, wat geakkrediteer is om kinders namens Mensa vir begaafdheid te toets.
Kontak haar gerus by 083 448 7420.