Donker Jonker praat oor sy pad en sy gedigte
Johan Viljoen
‘n Goeie klompie jare gelede by ‘n storie-aand op Malmesbury het ek hom die eerste keer gehoor.
Sy stem en sy veldstories – natuurstories met hier en daar ‘n spekskiet. Die gaste het geluister en aan sy lippe gehang.
Toe, ‘n heel paar jaar later, op ‘n Solo Studios-naweek in Riebeek-Kasteel deel Donker Jonker in ‘n donker kamer agter die Wine Kollektiv sy woorde. In Kopkamer gee hy ‘n stem aan die gedigte op geskeurde sementsak wat verlig aan doringdrade hang.
Donker.
Die langerige donker man grawe en slaan diep. Deel ook oor die pad met depressie.
Herman Jonker is ‘n kind uit die Overberg. Hy word vanjaar 70.
Ek het by hom gaan water drink op ‘n warm somersmôre op Riebeek-Kasteel.
Ons gesels oor Poets’ Rally – die nuwe digtersnaweek wat die eerste keer van 1 tot 3 Maart op dié dorp plaasvind. (sien berig) Wat ‘n uur sou wees, het drie geword.
Hy is “baie privaat”. Woon ook saam met ‘n hondemaat op ‘n pypsteelerf – half weggesteek.
Donker Jonker se gedigte is op Facebook en Instagram: Donker Jonker.
Dit, vertel hy, was ‘n groot sprong juis omdat hy so privaat is.
Hy was lank in argitektuur en daarna in industrie – ontwerp en vervaardiging.
“Maar op ‘n oggend het ek wakker geword en besef dit is nie wie ek is nie. Ek is in ‘n rat race.
Dit is nie ek nie. Ek is ‘n kreatiewe mens.”
Toe, 24 jaar gelede, besluit hy om te skryf.
Eers ‘n praktiese gids vir jagters. Dié was baie gewild.
Sedertdien het daar in totaal sewe boeke uit sy pen verskyn.
Stories uit die veld. Onder andere Ware (lieg)stories uit die Kalahari en versamelings van sy jagrubrieke wat hy al vir 23 jaar skryf. Dosyne tydskrifartikels en ‘n paarhonderd tydskrifrubrieke.
Op skool op Caledon het hy al goeie punte in die geskrewe taal behaal met ‘n goeie aanleg vir tale, “maar my omgewing het nie die opsie van die kunste toegelaat as ‘n loopbaankeuse nie”.
Vandag beskryf Jonker homself as ‘n bietjie filosofies.
“Ek is ‘n storiemens. ‘n Volkskrywer. Die cantador. Keeper of the stories of the tribe. Ek het geen literêre ambisie nie. Ek het ook geen reg om te mag skryf nie. Anders as matriek. Nie BA Tale of skryfkuns of joernalistiek gedoen nie.
“Ek skryf kontreistories en kontreikultuur – nie politiek, ekonomie of stadstories nie.”
Lawrence Green is sy gunstelingskrywer en “natuurlik Herman Charles Bosman is ‘n groot inspirasie”.
Die natuur en bewaringsetos lê Jonker na aan die hart. “Ek is nie ‘n greenie nie, veel meer pragmaties. Maar ek is nie ‘n groot fan van die human race nie. Ons track record is baie swak op hierdie planeet.
“Kyk wat doen ons aan ons omgewing. Het iemand iets gesê toe die boom geval het – sy lewe gegee het vir hierdie houtbank waarop ek sit?”
Hy probeer dit reflekteer in sy skryfwerk – verantwoordelike aardburgerskap en daar het al talle rubrieke daaroor uit sy pen gevloei.
Jonker geniet humor en die “liegstorie is nog altyd ‘n favourite van my”. Ware (lieg)stories uit die Kalahari was ‘n goeie humorverkoper.
Maar nou is daar Donker Jonker, die digter.
“Man, ek het altyd verbal doodling gedoen. Jy weet as jy skryf (sommer daar in die kantlyn) of as jy op die telefoon besig is. Woordjies.
“Ek het nooit gedigte of digkuns ernstig gevat nie en weet trouens daar nou nog niks van nie, behalwe dit wat ek op skool geleer en bitter lankal vergeet het.
“Ek hardloop glad nie saam met die literêre lot nie. Ek haat die pretensie wat ‘n mens dikwels in die literêre werêld vind.
“My gediggies het jare terug, lank voor ek by skryf gekom het, begin. Eintlik was dit rympies. Banaal en amateurrympies. Dit was in die 80’s en vroeë 90’s. Daardie tyd van Piet Koornhof en daardie manne.
“Shit Stirring-rympies.”
Hy sê ernstige digwerk het begin met sy depressie.
“Iets wat ek nooit in die lig mee gewaag het nie.”
Hy het kort na hy 50 geword het Hashimoto se outo-immuunsiekte gekry. “Dit het my ernstige gesondheidsprobleme gegee en een van die simptome is intense depressie vir lang tye. Dit is ‘n baie baie eensame plek. Ek is nou nog nie reg nie. Mense verstaan nie. Hulle sê: ruk jouself reg.
“Al hoe ek dit kon hanteer, was om dit neer te skryf vir myself. Nooit beplan om dit te publiseer nie.
“Ek noem dit duiwels uitskryf.”
Dáár het die digtery begin.
“Die donkerste, swartste diep gedigte. Letterlik wroeg.”
Hy sê die bedoeling was nooit om dit ooit te publiseer of vir iemand te wys nie, maar op ‘n stadium “het dit my krag gegee dat ek hierdie gevoelens ten minste iewers aan ‘n haak kan hang.”
“Op ‘n dag het ek net besluit, toe ek rêrig nou al moeg geveg is, nou draai ek om en ek saal hierdie swart hond op. Hy gaan nie weggaan nie. Nou sit ek ‘n stang in sy bek en ek ry hom. Dit is toe ek hierdie Donker Jonker-gedaante geskep het. Toe kom ek uit die kas uit. En ek sê: Dit is wat ek is.
Ek loop eintlik alleen. Ek is depressed, ek is knorrig. Baie dae in my moer. Dis wie ek is. Deal met dit, sê ek vir myself.
“Toe doen ek die toneelstuk Kopkamer by Solo Studios.”
Hoekom die naam Donker Jonker?
“Aan die een kant om myself te aanvaar soos ek is. Ek wil amper sê om dit te erken en om dit in die lig te bring. En omdat ek nie dieselfde persoon is wat ek was nie. Ek is gelouter.
“…en toe begin ek dig.
“Kopkamer. My mission was om vir mense te wys hoe lyk dit in die kop van ‘n depressiewe persoon. Lat hulle kan ophou sê: ag ek voel ook party dae so.
“Daar het mense gecrack. Aan die huil geraak. Dit het geslaag in die doel. En dit het my die selfvertroue gegee om te sê my gedigte is geldig. My stem is geldig, selfs al is dit the voice of the broken man.”
Donker Jonker se facebooblad het nou 1000 volgelinge.
Hy publiseer 3 keer per week gedigte en “ook ‘n bietjie filosofie – denke van donker en ander skryfseltjies.
“Die digding het vir my ‘n vreeslike lekker uitlaat – kreatiewe skrywery – geraak.
“for the love of it
for the hell of it
my eie breinspeletjies
word games“
Die vermaaklikheidwaarde van die gedig is belangrik, sê hy.
“Vir dit om tot sy reg te kom, moet die digter ook ‘n akteur raak. Dit geniet ek nogal. My toneelstukke kom daaruit.” Hy verwerk se gedigte tot “performances. Eerstemense en Kopkamer is almal gedigte.”
Kom die gedigte vanself of onder dwang?
“Nee nee, hierdie goed kom self.
“Die goed is hinderlik. As jy moet gaan sit en nou moet ek dig, nee nee. Hulle kom. Die boekies is oral. Boekie in die kar. Boekie in die gatsak. Boekie voor die bed. Boekies is oral.
“Hulle kom wanneer hulle wil. Dan moet jy reg wees om te vang. Te skep.
“Dis ‘n breinplek. Dis ‘n hoekie van die kop. Dit is nie iets waarvoor jy die instruksies lees en dan doen jy dit stapsgewys nie.
Jonker sê daar is altyd die hoop dat dit wat jy hier skryf, op die regte tyd by die regte persoon sal beland om hulle te help.
“Dis ‘n welsynstaak – beide vir myself en vir lesers.”