EntertainmentLatest

Sterbelaaide Poets’ Rally-program by POP-sentrum

Riebeek-Kasteel se eerste woordkunsnaweek, Riebeek Valley Poets’ Rally, het van Vrydag af ‘n sterbelaaide program van digkuns, optredes en kuns.
Naas verskeie plaaslike en besoekende digters, straatoptredes, die feestelike Mardi Gras-optog en Mardi Gras-afsluitpartytjie is daar Saterdag ook ‘n propvol progam by die POP-sentrum in Esterhof.
Shakespeare, ‘n poësiewerkwinkel vir kinders, ‘n verhoog met ‘n “open mic”-geleentheid, kuns, dans, die huldiging van miskende vroue uit die geskiedenis en inspirasie.
Dit in ‘n neutedop.

dié courant het met ‘n paar van die sterre wat daar gaan optree, gesels.
Lynn Hill is ‘n internasionaal-bekroonde motiveringspreker en skrywer/digter wat 40 jaar gelede ‘n brutale verkragting oorleef het.
Akteur, choreograaf en danser Kensiwe Mathebula-Tshabalala het ná ‘n paar jaar se verblyf in die VSA waar sy in New York en Los Angeles op die verhoë was en haar meestersgraad in toneelspel vir film aan die New York Film Academy voltooi het, teruggekeer en tree nou weer landwyd op en ploeg haar kennis terug om talent hier te help ontwikkel.
Shui-lyn White, geen onbekende in die Riebeekvallei nie met ‘n paar jaar se agtereenvolgende uitstallings as deel van Solo Studios, bring dié naweek haar kuns (‘n samewerking met Christiaan Diedericks) en digkuns na die vallei. Hulle span in Infinity to the Power of Women saam met Mathebula-Tshabalala wat ‘n dansuitvoering sal gee.
Dié optrede om 15:30 word Sondagoggend om 09:30 by die Riebeekvalley Arts Town-amfiteater herhaal.
Dorothy Ann Gould se Johannesburg Awakening Minds (JAM)-teatergroep doen Saterdag A Midsummer Night’s Dream en sal ook die oggend die digkunswerkwinkel vir kinders behartig onder leiding van Lwasi Mayeki.

White, ‘n boorling van Nigerië, vertel sy is al 35 jaar in Suid-Afrika. Haar ouers wou hier kom aftree en sy was in 1989 op pad Australië toe, hier gestop en is steeds hier.
Sy was baie klein toe sy begin het met kuns, maar het in 2002 eers begin kyk na kuns as ‘n loopbaan en is sedert 2012 voltyds ‘n kunstenaar en het sedertdien regoor die wêreld uitgestal.
Sy beskryf haar uitstalling by die Royal Society of Painter Printmakers for The Masters in London as een van die hoogtepunte van haar loopbaan.
Hierdie naweek met Infinity to the Power of Women huldig hulle met die kunswerke, digkuns en dans “vroue wat nie hul regmatige erkenning kry nie”.
Dit word gedoen aan die hand van “agt vroue uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis wie se bydraes nie na waarde erken word nie.
“Dié merkwaardige vroue – Alice Victoria Kinloch, Charlotte Maxeke, Cissie Gool, Dulcie September, Jean Sinclair, dr. Kesaveloo Goonam, Lilian Ngoyi en Victoria Mxenge – word ast’ware herontdek en deels aan ons herstel.”

Shui-lyn White

Mathebula-Tshabalala sê hulle “wil hierdie vroue uit die geskiedenis na die hede bring deur ook hedendaagse, vars en unieke dansbeweging te gebruik.
“Ons sal die projek ook graag wil uitbrei en toer na skole regoor die land om die jong mense te help opvoed.”
Mathebula-Tshabalala het in Johannesburg grootgeword en “was skaars drie toe sy begin dans het” en later oorsee deelgeneem voor sy ‘n graad in musiekteater by die Tswane Universiteit verwerf het.
Sy het verskeie rolle as aktrise vertolk en was ook al genomineer vir beste ondersteunende rol in die Fleur du Cap- en Naledi-toekennings.
Vandag deel sy haar kennis as dosent by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Film en Teater (Safata).
As veelsydige danser wil Mathebula-Tshabalala haar eie styl binne die kontemporêre genre ontwikkel met ‘n invloed van Afrika-fusion en -beweging.

Kensiwe Mathebula-Tshabalala

Dorothy Ann Gould, een van Suid-Afrika se mees bekroonde en gerespekteerde internasionale aktrises oor meer as 5 dekades, het Johannesburg Awakening Minds (JAM) gestig en in 2018 die Naledi-toekenning vir innovering in teater ontvang.
JAM poog om ‘n kreatiewe pad na rehabilitasie vir hawelose mense te bied deur middel van gemeenskapsteater – deur Shakespeare en poësie en klasse in toneelspel en stem.
Saterdag om 12:00 bring hulle A Midsummer Night’s Dream vol drama, liefde, humor en komplekse intrigelyne na die POP-sentrum op Riebeek-Kasteel.

Lynn Hill is om 14:00 aan die woord. Sy vertel van haar brutale aanranding en verkragting op 15. Dat “die trauma en brutaliteit só erg was dat ek my bewussyn verloor het. Ek het letterlik in die tonnel van die dood af gereis voor ek my krag bonatuurlik herwin het.”
“Hieruit was dit duidelik – dit was tegnies die geboorte van my goddelike doel. Ek het baie diep ervaar dat wat ek ook al deurgemaak het, nooit ooit verniet kan wees nie.
“Dat as dit nie tevergeefs is nie, moet ek die doel van hierdie pyn vind en hoe kan ek dit gebruik vir die mensdom.”
Dit het haar geïnspireer om ‘n berader te word en sielkunde te studeer.
“Ek het (aanvanklik onbewustelik) die keuse gemaak om, al is so baie van my weggeneem, ek nooit my drome sal prysgee as gevolg van wat met my gebeur het nie.
“Om dankbaar te wees dat ek van die dood gespaar is, het my perspektief verskuif.”

Lynn Hill

Haar eerste boek Butterfly, My Soul Got Wings, het reeds verskyn en die tweede behoort binne die volgende maand op die rakke te wees.
“My skryfwerk en my digkuns was ‘n integrale deel van my reis. Ek skryf al vandat ek 8 jaar oud was. En dit het baie terapeuties geword vir my.”
Oor hoop, sê Hill elkeen moet hul klein bietjie doen om waardes terug te kry in die ouerhuis (die kwaliteit van ouerskap), skole en kerke en nooit die waarde van daardie klein bydrae en veranderde gedrag onderskat nie.
“Ek pleit ook wêreldwyd vir die herdefiniëring van mag in hierdie wêreld, seun tot seun, meisie tot meisie. Nie net binne ‘n man-vrou verhoudingsdinamiek nie, maar deur die hele samelewing. Om die siklus van die misbruik van mag te stop.
“Dit is moontlik. Die oomblik wat ons gaan sê iets is nie moontlik nie, deaktiveer ons die konstruktiewe aksie wat ons wel die mag het om te neem.
“Einstein het gesê: Ons kan nie probleme oplos met dieselfde ingesteldheid waarmee ons dit geskep het nie.”
*Poets’ Rally word moontlik gemaak deur ‘n toekenning van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport via die Stand-stigting.

Leave a Reply

error: Content is protected !!