Agri/BusinessLatest

Landbou trotseer talle uitdagings – Hewett

Landbou in die streek het in 2023 talle uitdagings die hoof gebied.
Só het die voorsitter van Agri Malmesbury, Dickie Hewett, op dié liggaam se jaarvergadering gesê.
Onder die uitdagings wat hy in sy jaaroorsig uitgelig het, tel die hoë insetkostes vir onder meer kunsmis en spuitstowwe as ‘n nadraai van Covid-19 en die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne. Hy het ook daarop gewys dat produkpryse baie gedaal het (20-30% daling in pryse vir graan, vleis en oliesade).
Nadat die jaar aanvanklik “vinnig baie nat en koud geraak het, het dit afgesluit met ‘n droë somer vanaf Oktober.
“Die baie nat toestande het veroorsaak dat swam- en kunsmisbestuur en tydsberekening baie krities was. Saad wat ná 15 Mei geplant is, het moeilik weggetrek omdat koue grond ‘n negatiewe uitwerking op ontkieming het.”
Hewett het gesê met die jaar wat droog afgesluit het, was die opbrengs aan die kant van droëlandwingerd onder druk en die produkprys van druiwe bly ook relatief laag.
Hy het ook melding gemaak van sake wat deur Agri Malmesbury hanteer is.
Een daarvan was die nuwe munisipale waardasies. “Agri Malmesbury het ‘n vergadering met die munisipaliteit gehad ten opsigte van die berekening van munisipale belasting op grond. Die berekening van die waarde van wingerdgrond is onder meer bevraagteken. Aanpassings is gevolglik deur die munisipaliteit gemaak.”

Hy het ook die werksaamhede van die studiegroepe uitgelig en veral Malmesbury Veiligheid “wat ontwikkel het in ‘n fenomenale veiligheidsnetwerk” geprys vir hul werk. Hy het ‘n sertifikaat van waardering aan luitenant-kolonel Uys van der Westhuijzen oorhandig. Hewett het ook diegene bedank wat geldelik bygedra het tot die aankoop van en integrasie van nuwe toerusting waaronder ‘n stelsel met kameras en nommeplaaterkenning (LPR-stelsel).
Hewett het ook gepraat oor die skougenootskap. “Die Skougenootskap is nie meer aktief nie en is in die proses om hulle administrasie in plek te kry om moontlik hulle bates oor te dra na Agri Malmesbury en dan te ontbind.”
Hy het klem gelê op die waarde van die lidmaatskap van ‘n studiegroep waar boere waardevolle lesse by ander kan leer.
Hewett het ook die belangrikheid uitgelig van georganiseerde landbou wat ‘n “platvorm bied vir landbouers om as ‘n groep ‘n positiewe verskil te maak ten opsigte van beleidvorming. Dit bied ook bedingingsmag, ondersteuning, deel van kennis, verbetering van landboupraktyke en bevorder die algehele volhoubaarheid van die landbousektor en gevolglik ook voedselsekuriteit.”
Hy het ook die Swartland Munisipaliteit bedank virt hul goeie munisipale bestuur en ‘n sertifikaat van erkenning aan Joggie Scholtz, SM se bestuurder, oorhandig.

Richard (Dickie) Hewett en Uys van der Westhuijzen

•Van der Westhuijzen was die gasspreker van die aand. As boorling van Malmesbury is hy oor jare reeds nou betrokke en baie ervare in veiligheid.
Hy is ‘n reserwemag-offisier, oud-kommandobevelvoerder van die Weskus en het al as voorsitter gedien van die internasionale militêre komitee wat militêre vaardighede evalueer. Hy het ook al aan verskeie nasionale en internasionale militêre oefeninge deelgeneem en konsepte ontwikkel met ‘n uitgesoekte groep senior offisiere en is ook al internasionaal vereer vir sy diens.
Van der Westhuijzen, ‘n oud-voorsitter van Agri Malmesbury, is al vir meer as 34 jaar nou betrokke by landelike veiligheid.
Dit sluit in sy betrokkenheid op komitees waaronder dié van die minister van Polisie, Bheki Cele, en as voorsitter van Agri Wes-Kaap se beleidskomitee vir landelike veiligheid.
Hy lei tans Agri SA se sentrum vir Uitnemendheid: Landelike Veiligheid en dien op talle veiligheidstrukture waaronder plaaslike aksies.
Dié oud-hoofseun van die Hoërskool Swartland het gepraat oor hoe sake met landelike veiligheid staan. Wat daar gedoen word en of daar suksesse en groot rede tot kommer is.
Hy het talle aksies waarby georganiseerde landbou op verskillende vlakke betrokke is, uitgelig.

Sy raad was om nie paranoïes te wees nie, maar om te weet wat in jou omgewing aangaan.
Hy het die waarde van veiligheidskameras en hommeltuie uitgelig, maar kameras wat net opnames maak en nie gekoppel is aan ‘n netwerk nie, is amper waardeloos.
Van der Westhuijzen sê sosiale media en toeps soos Whatsapp is van die beste hulpmiddels wat beskikbaar is, maar maan dat dit ook van die swakste is omdat elkeen nuus eerste wil versprei nog voor dit geverifieer is. Inligting wat versprei word is dikwels onverwant.
Oor die stand van sake in die streek het hy gesê daar is onder meer Malmesbury Veiligheid wat goed werk op die plase en in die dorp. Daar is ook die Gemeenskapsveiligheidsforum en goeie skakeling met die Swartland Munisipaliteit.
“Ons het baie aan ons kant. Ons moet dit nie miskyk nie, maar maar ons moet nie gemaklik raak nie,” het hy afgesluit.

Leave a Reply

error: Content is protected !!