Een wyk in die Swartland is nou PA
Die Patriotic Alliance het gister se tussenverkiesing in Wyk 11 van die Swartland gewen en sodoende dié wyk, wat vir jare ‘n DA-wyk was, afgeneem.
Dihno (Gerhardus Elroy) White is die nuwe PA-raadslid wat 853 kruisies uit die twee stemlokale – die sportsentrum in Alfastraat en die Wesbank Gemeenskapsaal – ontvang het. Dit is 28 stemme meer as die 825 wat kiesers agter die naam van die DA se kandidaat, Maude Goliath, getrek het.

Die derde meeste stemme is dié van die onafhanklike kandidaat Moos Jaanse wat 232 (10,93%) stemme ontvang het.
Die posisie van raadslid vir wyk 11 het vakant geword met die dood vroeër vanjaar van die raadslid Collin Daniels wat die wyk in 2021 vir die DA behou het. Daniels het toe 762 (44,93%) van die 1714 stemme getrek het. Die PA se destydse kandidaat (Sonja Vermeulen) het toe 47 stemme (2,77%) gekry.
Gister se uitslag beteken uit die twaalf wyke in die Swartland is daar nou tien DA, een ANC en een PA.

Die ander 11 raadslede uit die totaal van 23 word opgemaak uit drie van die DA, vier van die ANC, een van Good, een van die EFF en twee van die VF+.
Die Demokratiese Alliansie het dus nou 13 uit die 23 setels op die raad gevolg deur die ANC met vyf, die VF+ met twee en dan een elk vir die EFF, Good en die PA.
In gister se tussenverkiesing het White 179 (33,09%) van die stemme by die Sportsentrum gekry en 674 (42,6%) van die stemme by die gemeenskapsaal.
Goliath (DA) het 267 (49,35%) van die stemme by die sportsentrum gekry en 558 (35,27%) van die stemme by die gemeenskapsaal.
Die totale aantal geregistreerde stemgeregtigdes in die wyk was 4473 (1171 by die sportsentrum en 3302 by die gemeenskapsaal).
Daarvan het ‘n totaal van 2139 (47,82%) gestem waarvan 16 bedorwe stemme was.

Die volledige lys van totale stemme per kandidaat is soos volg:
Alfonzo Mackenzie (EFF): 23 (1,08%)
Dihno White (PA): 853 (40,18%)
Maude Goliath (DA): 825 (38,86%)
Moos Jaanse (Onafhanklik): 232 (10,93%)
Sharon Geduld (Onafhanklik): 78 (3,67%)
Stanford Krotz (ANC): 112 (5,28%)

White (36) het vroeër aan dié courant gesê hy woon op Malmesbury en het nie tans ‘n voltydse werk nie.
“My boodskap aan die inwoners van wyk 11: Die Patriotic Alliance is die laaste Hoop vir ons gemeenskap.
‘n “Stem vir Dihno White van die Patriotic Alliance as wyk 11 se raadskandidaat is ‘n verandering vir wyk 11 se gemeenskap. Dankie familie van Wyk 11, Swartland Malmesbury.”