LatestSports

Rhinos oënskynlik in ‘n maalgat

Die besoekende span van Paternoster het Saterdag op Piketberg binne die eerste 5 minute van hul wedstryd in die Boland Grootuitdaagliga (Weskus) hul rekening geopen met ‘n drie teen die Piketberg Rhinos.
Paternoster het hiermee dit duidelik gemaak dat hulle nie gekom het om te kom kuier nie.

Die spanne het uitgedraf ná die SA Beker-kragmeting waar Piketberg as gasheer opgetree het vir die Boland Kavaliers se stryd teen die OP Olifante.
Nadat dit in een stadium gelyk het of die OP wil verras, het Boland die wedstryd beklink met ‘n sege van 48-40.
In die Grootuitdaag-stryd het Paternoster se groot voorspelers behoorlik ingeklim en kon die flank, Will Chester, vroeg gaan druk en Hillford Clarke het verdoel.
‘n Strafdrie het gevolg ná ‘n oortreding teen ‘n dryfmaalbeweging en toe was die manne van Paternoster met 14-0 voor.
Die Rhinos was daarna vir die eerste keer in ‘n aanvallende posisie voor die doellyn van Paternoster. Hulle het munt geslaan en Piketberg se voorste driedrukker van die seisoen, Sashin Dirks, het vinnig getik om onder die pale te gaan druk.

Ná nog twee drieë deur die besoekers se Juwaan Willemse en Roberto Clarke, kon Paternoster ‘n bonuspunt vir 4 drieë vier met die telling op 24-7.
Piketberg se hardlooprugby teenoor Paternoster se voorspelerdryfspel het laat herinner aan verskillende pole van ‘n magneet. So erg het beide spanne verskil in die manier hoe elk die wedstryd benader het.
Met Will Chester se tweede drie reeds in die eerste helfte en ‘n strafskop deur Piketberg se Waydon Baadjies breek die rustydtelling aan met Paternoster in ‘n gerieflike posisie voor op 31-10.

Vir Piketberg se opponente kan Dirks soos die spreekwoordelike vlieg in die salf voel. Hierdie jong en opwindende speler vang opponente dikwels aan die slaap. Een so ‘n keer het gelei tot ‘n lang aangee na sy buitesenter, Charlten Basson, wat met gemak in die regterkantse hoekie oor die doellyn kon seil.
Al het die spelers van Paternoster ook baie hanteerfoute begaan, kon hul sterker skrum keer op keer deur vasskoppe weer die besit van die bal wen.


Paternoster het ‘n skerbeweging voor die doellyn uitgevoer en die bal kon na binne gegee word vir Adriaan Cloete om onder die pale te gaan kuier. Ná nog ‘n drie deur Ronaldo Bester en ‘n strafskop deur Hillford, kon die spelers van die Rhinos ‘n sug van verligting slaak toe die skeidsregter die eindfluitjie blaas.
Met die eindtelling op 48 -15 in die guns van Paternoster en met die houtlepel in die hand op die punteleer, kan die manne van Piketberg verskoon word as hulle hulleself afvra: “Is ons nog op die regte koers?”

Sien ‘n fotobeeld van die wedstryd op facebook

Leave a Reply

error: Content is protected !!