LatestSports

Abbotsdale lei ná 1ste ronde in Grootuitdaag

Aan die einde van die eerste ronde van Boland Rugby se Grootuitdaagliga (Swartland) is daar duidelik twee helftes op die puntetabel.
Met Abbotsdale en Good Hopes wat elkeen agt van hul tien eersterondewedstryde gewen het, en nog drie spanne – Wesbank, Porterville en Darling – wat bo 30 ligapunte het, is die wedloop nog wawyd oop.

Abbotsdale (tans eerste) en Good Hopes van Riebeek-Wes (tans tweede) kan beslis nie houtgerus wees nie.
Wesbank (tans derde met 37 punte) het sewe wedstryde gewen gevolg deur Porterville en Darling wat in hul kragmeting gelykop gespeel het teen mekaar en onderskeidelik ses en vyf wedstryde gewen het.
Laasgenoemde drie spanne kan beslis nog lank nie buite rekening gelaat word nie.

Vir die res van die veld lê daar ‘n opdraandstryd voor.
Die vier spanne in posisies 6,7,8 en 9 kon elk net 4 van hul 10 wedstryde wen.
Never Despair (tans sesde) is met 23 ligapunte 10 punte agter Darling (33, wat 11 bonuspunte insluit) en 18 punte agter Abbotsdale se 41 punte.
Moorrreesburg en Riebeek United het elkeen 22 ligapunte en lê onderskeidelik sewende en agtste met die punteverskil wat dan posisies bepaal.
Saron op nommer nege het 21 punte.

Villagers Wittewater het drie wedstryde gewen en is in die 10de plek op 14 punte.
Young Eagles, die nuweling in die liga, kon slegs een wedstryd wen en lê heel laaste met ses ligapunte.

Die wedstryde in die tweede ronde skop aanstaande Saterdag (15 Junie) af:
Abbotsdale speel dan weg teen Saron,
Young Eagles speel gasheer vir Darling,
Good Hopes ontvang die span van Moorreesburg,
Riebeek United speel tuis teen Wesbank en
Never Despair ontvang die spelers van Villagers Wittewater.

Leave a Reply

error: Content is protected !!