Swartland se top-agriwerker gesoek
Gulde geleentheid vir die landbou
Die boerderysektor in die Swartland het weer die geleentheid om hul landbouwerkers te nomineer vir die Departement Landbou se prestige landbouwerkertoekennings.
Die Swartlandbeen van dié kompetisie word deur die Swartland Wyn- en Olyfroete gekoördineer en dié courant het met Jolene Janse van Rensburg, bestuurder van dié roete, oor die kompetisie gesels.

“Die kompetisie, wat deur die departement aangebied word in samewerking met Shoprite as borg, bied ‘n waardevolle geleentheid vir die landbousektor om hul werkers te erken vir hul diens en bloot te stel aan verdere ontwikkelingsmoontlikhede.”
Daar is 11 afdelings waarin die werkers kan deelneem: Algemene Werker; Administratiewe personeel; Tegniese Operateur; Besproeiingspesialis; Drywer (trekker/vurkhyser of ander voertuig); Diereproduksie; Maatskaplike Ontwikkeling; Landbouverwerking; Voorman/Vrou; Junior Bestuur en Middelbestuur.
Die deelnemers wat in die eerste drie plekke in elke afdeling geplaas word, ontvang kontantpryse asook koopbewyse.
Die beoordelaarspaneel wys ook uit al die afdelings die werker met die beste potensiaal aan en daar word dan ‘n algehele wenner vir die streek aangewys.
Die plaas wat die beste presteer met die meeste wenners en plekplasings kry ook ‘n toekenning.
Inskrywings vir die Swartland sluit vanjaar op 15 Junie.

‘n Plaas/kelder/produksie-eenheid kan een werker in elke van die kategorieë inskryf.
Al die wenners van die onderskeie afdelings asook die algehele wenner dring outomaties deur na die onderskeie afdeling van provinsiale kompetisie teen 15 ander streke.
Janse van Rensburg moedig die bedryf in die streek aan om hul werkers in te skryf en op dié manier te help ontwikkel om hul potensiaal te bereik.
“Dit bied nie net aan deelnemers nuwe blootstelling nie, maar help hul ook om meer selfvertroue te ontwikkel.”
Elke deelnemer het ‘n kort onderhoud van 15 minute met die beoordelaarspaneel.
Hulle word uitgedaag en gedwing om met nuwe oë na hul werk te kyk en te fokus op die aspekte waar hul kan verbeter.
Die Swartland se wenners word dan by ‘n toekenningsgeleentheid op 29 Augustus aangekondig.
Die deelnemers wat daar wen en so deurdring na die provinsiale ronde, kry ook die geleentheid om skouer te skuur en te leer by ander kandidate wat in dieselfde veld werk.
Daar het by geleentheid in die verlede ook al verdere opleidingsmoontlikhede uit die kompetisie voortgespruit.

Die provinsiale wenners word op 2 November by ‘n galageleentheid aangewys. Die Swartland se wenner van verlede jaar in die diereproduksie-afdeling, Winston Antas, het in die provinsiale kompetisie die ander streke se wenners uitgestof en dié afdeling ook daar ingepalm.
Die groot algehele provinsiale wenner van die Agri Werker van die Jaar wen groot pryse. Hy/sy word ook lid van die LUR van Landbou se Prestige Agri Werker Forum. Hierdie forum vergader op ‘n gereelde basis met die LUR om landbouwerkerverwante kwessies te bespreek.
Janse van Rensburg rig ‘n uitnodiging aan die boerderysektor in die Swartland om ook deel te word van dié kompetisie en op dié manier by te dra tot die uitbou van landbou in die streek.
Kontak haar by 022 487 1133 of 083 268 2732 of e-pos by swartlandinfo@westc.co.za vir meer besonderhede oor die inskrywings of indien u op enige manier betrokke wil raak.