Restaurant vir “nuwe ou” Loedolffhuis beplan
As alles volgens plan verloop, sal die restourasie van die historiese Loedolffhuis op Malmesbury teen Julie aanstaande jaar voltooi wees.
Die gebou wat geskat uit 1830 dateer (vensters aan die agterkant van die gebou dui op ‘n vroeër datum – 1815), sal voortaan weer soos vroeër ‘n sinkdak hê, nadat die swaar grasdak en gewels wat later bygevoeg is, ‘n paar jaar gelede ingeval het.
Op historiese foto’s kan duidelik gesien word die gebou het nie ‘n grasdak gehad nie. Dit is egter steeds onduidelik of dit aanvanklik ‘n sinkdak gehad het.
Loedolffhuis behoort aan die Weskus Kollege en volgens ‘n woordvoerder, Samantha Burger, is die “plan om dit as ‘n restaurant met oornagverblyf te gebruik. Daar sal ook ‘n bykomende bakkery wees wat oop sal wees vir die publiek as deel van die gasvryheidsopleiding wat aan studente by die kollege verskaf word.
“Daar sal binne en buite sitplek beskikbaar wees asook voldoende parkeerplek.”
Die dak het in 2021 ingetuimel en bouwerk het onlangs begin.
Daar was ook jare gelede, lank voor die kollege dit gekoop het, groot skade aan die gebou toe ‘n vragmotor dit getref het.
Sover vasgestel kan word, was daar toe destyds pogings om die gebou te sloop, maar goedkeuring daarvoor is geweier.
Loedolffhuis is vernoem na die destydse eienaar Hugo Hendrik Loedolff (1804–1864), ‘n bekende inwoner van Malmesbury. Hy was ‘n politikus en die streek se lid van die Kaapse Parlement. Hy was ook ‘n omstrede figuur, veral bekend vir ‘n hofsaak teen die kerk.
Loedolff wat op die NG Kerk se sinode gedien het, was ontevrede met die samestelling van die sinode. Hy wou nie hê gemeentes buite die Kaapkolonie moes deel daarvan uitmaak nie en het op die sinode kapsie gemaak daarteen.
Toe sy mosie vir ‘n tweede keer van die hand gewys is, het hy hom in 1862 tot die hof gewend wat in sy guns beslis het. Dit het die kerk gedwing om nog sinodes te stig.
Loedolff was ook die swaer van die welbekende ds. J.C. le Febre Moorrees (1807-1885) wat vir bykans 50 jaar as predikant van die NG gemeente Swartland gedien het. Moorreesburg is ook na hom genoem. Loedolff was getroud met ds. Moorrees se suster, Klara (Maria Klara 1814 – 1887). Sy grafsteen is onder talle by die NG Moederkerk op Malmesbury.
- Nog ‘n hofsaak oor die kerk ‘n jaar of wat later het ook uit die Swartland gespruit.
Ds. Johannes Jacobus Kotze van Darling is deur die kerk geskors oor ‘n leeraangeleentheid. Hy het hom tot die hof gewend en dié het in 1864 sy skorsing ter syde gestel. Die sogenaamde “liberale gemeente” het in daardie tyd op Malmesbury tot stand gekom toe die NG gemeente Swartland skeur. Kotze se liberale gemeente het in 1870 ‘n kerk in Loedolffstraat (die gebou vandag net langs die Steakhuis) gebou. Daar was ook ‘n woonhuis.
Die verdeeldheid het tot in die 1890’s geduur voor daar weer vrede gekom en die nuwe kerkgebou en eiendom verkoop is.