Ons moet amper nie brag oor skoon oudits nie – Bredell
Anton Bredell is in 2009, toe die DA die Wes-Kaapse provinsie oorgeneem het, deur die destydse premier, Helen Zille, gevra om die portefeulje vir plaaslike regering en omgewingsake in die provinsie te behartig. Hy is in die Swartland opgevolg deur Tijmen van Essen.
Hy het onlangs sy vierde termyn as LUR in dié pos begin en dié courant het met hom gaan gesels.
Bredell vertel dat dinge destyds in die provinsie maar deurmekaar was.
“Daar was baie korrupsie.” In die departement was omgewingsimpakstudies (EIA’s) ‘n “vloekwoord. Dit was ‘blok alles’ en die vertrek was vol EIA’s. Niemand het gewerk nie. Ook as gevolg van die politiek, want as politiek skeef trek, los hy die personeel eenkant.”
Hy sê hy het die personeel “in die oë gekyk en verseker hulle sal nie by politieke agendas betrek word nie. Jy word aangestel vir jou professionele kennis.”
Bredell gesels oor die noodsaaklikheid om omgewingsake en beplanning bymekaar te trek. “Jy moet die ekonomie dryf en jy moet die omgewing binne-in die ekonomie dryf. Dit is nie die een of die ander nie, anders gaan die omgewing verloor.”
Hy is ook verantwoordelik vir rampbestuur en is “baie trots op wat rampbestuur tot dusver bereik het.
“Ons het in 2010 daaraan begin bou. Die logiese twee rampe wat ons kan tref, is water en/of droogte en vure. Ons het ‘n risikoprofiel gedoen op die provinsie en onder andere internasionale mense gekry om ons mense op te lei, onder meer vir wanneer ‘n gebou instort. Ons het omtrent 125 hoogsopgeleide mense.
“Dit het ons gered met die George-gebou se instorting. Die wêreldtendens is dat jy omtrent 10% mense lewend uitkry. Op George het ons 54% lewendig uitgehaal.”
“Ons mense in die Wes-Kaap is baie bevoorreg dat ons sulke spanne het. Hulle het oor die jare baie lewens gered.”
Hy vertel ook van die programme wat geskryf is om te voorspel watter areas gaan oorstroom as dit met die voorspelde reënvalsyfers gevoer word. Só kan munisipaliteite gewaarsku word watter areas ontruim moet word. “Ons spaar op dié manier baie geld.”
Oor drinkwater sê Bredell daar is ‘n 15 jaar-waterplan.
Elke munisipaliteit se waternetwerk is ontleed om ook te kyk waar hulle agter geraak het met instandhouding en wat nodig is om by die verwagte bevolkingsgroei by te bly. Die verwagte groei in die Swartland is bv. 4%.
“Ons gesels met Waterwese oor langer termyn opgaarfasiliteite. Daar is nou ‘n ander gees in die regering van nasionale eenheid. Die mense praat met jou.
“Ons moet kyk na die Voëlvlei-aanvullingskema met die Bergrivier. Onthou die Voëlvlei kan ook (om die berg) gekoppel word met die Breederivier.
“Die vermoë om water te skuif tussen damme asook die ingenieursvermoë om ‘n dam binne ‘n dam te bou, het ons met die 2017-droogte gered. Die derde grootste waterverbruiker is verdamping. Hulle het dus die verdampingsoppervlak gekrimp. Dit het vir ons ‘n maand gekoop.
“Dan moet ons kyk na nog ‘n dam in die Palmiet iewers. Dit sal baie mense se hare laat regop staan, maar daar is plek vir alles as ons dit reg doen en ons moet watersekerheid hê. Dit is op my en die premier se prioriteitslys. Sonder krag kan jy nog ‘n paar dinge doen, maar sonder water kan jy nie.
“Ek erken ontsouting is duur, maar as jy ontsouting doen en dit deel maak van die plan, kan dit tot watersekerheid bydra.”
Hy sê hulle kyk ook na lugbesoedeling. “Ons kan dit nie net los nie. Ons het lugmoniteringstasies op waentjies gebou om die luggehalte te moniteer by spesifieke plekke.
“Ook die groen skerpioene wat wetgewing afdwing, doen baie goed. Omgewingsboetes is kwaai boetes. Dit is baie belangrik om die natuur en ondergrondse waterbronne en ‘n toekoms vir die kinders te verseker.”
Op die prestasies van plaaslike regering is “ons ook baie trots. As onafhanklike studies vir jou sê dat uit die top-20 munisipaliteite is daar 15 in die Wes-Kaap, doen ons iets reg.”
“Die probleem wat ek het met skoon oudits is dat dit nie vir my sê daar is nie korrupsie nie. Hulle oudit baie goed, maar ek wil hê die oudit moet vir my sê of mense steel.
“Maar ons moet amper nie brag oor die skoon oudits nie, dit is ‘n moet. Dit is waar dienslewering begin. Dit is ononderhandelbaar.”
Bredell sê hulle wil ‘n waterdag met rolspelers en die departement van waterwese hou.
Na aanleiding van die onlangse damramp by Riverlands sê Bredell hy wil dan vir waterwese vra om alle plaasdamme te plot. Daar moet ook gereeld ‘n inspekteur uitgestuur word om te kyk of die uitvloei van elke dam behoorlik in stand gehou word.
Ons gesels ook oor distriksmunisipaliteite. “Distrikte gaan nie net verdwyn nie. Die waarde wat hulle toevoeg, moet ‘n ou oor praat.
“Nasionaal het begin met ‘n distriksontwikkelingsmodel (DDM). Ons gaan nou hof toe daarmee, want dit is ongrondwetlik.
“Waarheen jy die funksies skuif – jy moet antwoord hoe kry jy goeie dienste die goedkoopste by die huishoudings. Dit is wat ons gedoen het met water, dit moet antwoord waar die diens moet gaan.”
“As nasionaal môre besluit distrikte moet verdwyn, gaan dit eers in 2035 verdwyn, want jy werk met mense. Jy werk met bates. Dis ‘n geweldige proses. So vir nou is hulle daar om te bly.”
Bredell sê hy “baklei baie vir ‘n nuwe finansiële model, want ek kan nie my regmatige deel kry solank daar nie ‘n beperking op nasionaal is nie. Hul vat wat hulle nodig het en dan deel hulle die res wat oorbly. So ek gaan nooit my regmatige deel kry nie.
“Nasionaal moet ‘n plafon hê sodat ons geld kan kry om munisipaliteite te ondersteun om dienslewering dwarsdeur te trek. By munisipaliteite is dit ‘n balans tussen betaal en nie betaal. Ons het studies gedoen oor hoe verseker ons vir elke mens ‘n menswaardige lewe. Die grondwet sê 6kl water, maar die studie het gewys 10kl. Die grondwet praat van 50 eenhede krag, maar die studie het gewys 150 eenhede. Dit maak sin, maar ons is nog ver van daar af.
“Die munisipaliteite kan dit nie bekostig nie. Hulle het hulp nodig, want ons raak te duur vir die middelinkomstegroep.
Die inwonertal bly styg. “Ons studies wys die provinsie gaan groei met 1,2 miljoen mense na 2030 toe, waarvan Kaapstad amper 900 000 kry. Bloemfontein het 900 000 mense. Dit beteken Kaapstad moet ‘n Bloemfontein akkommodeer binne-in hom – al die paaie al die skole al die hospitale. Waar? Hoe? Dit is die vrae waarmee ons nou begin stoei, sodat ons kan voorbly met hulpbronne.”